RIVERSDAL NUUS - Die oud-Riversdaller, Lodelia Kombrink (41), het verlede naweek haar naam in die rekordboeke van Suid-Afrikaanse ultrabergwedlope geskryf toe sy die eerste vrou was om die uitmergelende Mut Miler (168 km)-afdeling van die Mountain Ultra Trail (MUT) te voltooi.
Sy het nie net die vrouewedloop gewen nie, maar ook as vierde atleet algeheel geëindig en die bestaande rekord met 26 minute en 24 sekondes verbeter.
Kombrink, 'n voormalige leerder van Laerskool Volschenk en Hoërskool Langenhoven, waar sy in 2002 hoofdogter was, het die wedloop in 'n indrukwekkende tyd van 26:07:06 voltooi.
"Om as die eerste vrou en vierde atleet algeheel oor die eindstreep in jou eie agterplaas te hardloop, was absoluut ongelooflik," vertel sy.
"Vrydagmiddag en -aand was dit 'n behoorlike kat-en-muis-stryd met Nicolette Griffioen. Toe ek uiteindelik in George inhardloop en die skare sien, en besef ek het die gemeenskap trots gemaak, was dit 'n ongelooflike gevoel."
Die MUT word beskou as een van Suid-Afrika se mees uitdagende ultrabergwedlope, met tegniese bergterrein, groot hoogteverskille en uitmergelende afstande wat selfs ervare atlete tot die uiterste beproef.
Vir Kombrink was die wedloop egter nie sonder probleme nie.
"Om 04:44 Saterdagoggend het ek ná 117 km by die Oakhurst-hulppunt aangekom. Dit is die laaste plek waar jou ondersteuningspan jou kon sien. Net voordat ek weer op die roete gegaan het, het my bloeddruk skerp gedaal en was ek verskriklik duiselig," sê sy.
Sy moes vir 'n ruk stilstaan voordat sy kon voortgaan, maar dit het bykans drie ure geneem voordat sy weer normaal gevoel het.
Kort daarna het sy op 'n afdraande met los gruis gegly en haar groottoonnael beseer.
"Ek kon onmiddellik voel die toonnael het losgekom, en daar was nog sowat agt ure se hardloop oor.
Ek moes besluit: stop ek om daarna te laat kyk, of druk ek deur en probeer die rekord breek?
Die rekord was natuurlik die meer aanloklike opsie."
Volgens haar is een van die grootste uitdagings van ultrawedlope om nugter en positief te bly terwyl die liggaam onder geweldige druk verkeer.
"Dit is 'n fyn balans.
Een van my sterk punte is dat ek geestelik baie sterk is.
Dit is beslis 'n groot voordeel in hierdie sport. Daar was omtrent vyf ure waarin ek behoorlik diep moes delf."
Maande se voorbereiding
Agter die rekordpoging lê maande van deeglike voorbereiding onder leiding van haar afrigters, Fred Richardson en Anja Louw van Mindful Runner - met Louw wat self van Riversdal afkomstig is.
"Vir hierdie wedloop het ons 'n ander benadering gevolg.
"Die voorbereiding het uit 1 580 km se hardloop en sowat 72 000 m se hoogtewins bestaan. Dit was amper 200 ure se oefening tussen Januarie en Mei," verduidelik Kombrink.
Die program het kragoefeninge, spesifieke hardloopsessies en selfs naweke van tot 18 ure se hardloop ingesluit, soms aangevul deur nagsessies van ses ure.
Plaaskind wat groot droom
Hoewel sy nou op nasionale vlak presteer, glo Kombrink haar wortels in Riversdal het 'n belangrike rol in haar ontwikkeling gespeel.
"Die grootste les wat ek die naweek geleer het, is dat mens werklik in jouself moet glo. Soms is jy jou eie grootste vyand. Ek het die wedloop begin met 'n plan waarvan ek aanvanklik nie seker was of dit gaan werk nie, maar ek het besluit om dit 'n kans te gee."
Sy hoop haar prestasie sal jong atlete inspireer om hul eie drome na te jaag.
"Nie almal gaan 100 Milers hardloop nie, maar jy kan by 'n korter afstand begin. Om 'n bergwedloop te beleef, laat 'n blywende indruk op jou. Elke atleet het 'n rede waarom hulle dit doen. My grootste motivering is my kinders - om vir hulle te wys dat mens groot kan droom en dat 'n plaaskind van Riversdal heel bo kan uitkom."
Kombrink het haar rekordwedloop ook opgedra aan Xtreme for Kids, 'n organisasie wat kinders ondersteun wat seksuele misbruik oorleef het.
"Dit gee jou daardie ekstra motivering om klaar te maak wat jy begin het," sê sy.
Met haar rekordprestasie het Kombrink nie net die MUT oorwin nie, maar ook bewys dat deursettingsvermoë, geloof in jouself en harde werk steeds die resep vir buitengewone sukses bly.
Borge
Kombrink word afgerig deur Mindful Runners, geborg deur Black Diamond South Africa en Scarpa South Africa en sy is ook 'n Squirt Cycling Ambassador.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’