RIVERSDAL NUUS - Adjudant-offisier Boer Janse van Rensburg (Philipus Janse van Rensburg), 'n welbekende figuur in die plaaslike polisiediens, het ná 'n merk-waardige loopbaan van
42 jaar afgetree.
Sy dienslewering by die Rivers-dal-polisie het op 8 Desember 1982 begin toe hy by die polisie-stasie aangesluit het, en het geëindig as een van die mees ervare speurders in die streek.
In 'n gesprek met Suid-Kaap Forum het Janse van Rensburg gesê hy het destyds tussen die weermag en die polisie gekies, maar het besluit dat hy sy roeping in gemeenskapsdiens beter in die polisie sou uitleef. "En dit is presies wat ek vir 42 jaar gedoen het," sê hy met trots.
Hy het in 1990 begin met die stigting van die speurtak by die Riversdal-polisie en het vyf jaar later sy nasionale polisiediploma verwerf.
Hy glo 'n ware speurder word gebore - nie gemaak nie.
"Jy moet 'n natuurlike aanvoeling hê om 'n saak te ontrafel, en dissipline is ononderhandelbaar.
Ek was vir 42 jaar elke oggend vroeg op my pos en nooit laat vir 'n hofsaak nie," het hy benadruk.
Janse van Rensburg beskryf sy loopbaan as 'n roeping vol opofferinge.
"My gesin het baie opgeoffer.
Daar was baie dae dat ek laatnag eers huis toe gekom het. Ek is hulle innig dankbaar vir hul onwrikbare ondersteuning deur die jare," sê hy.
Hy voeg by dat sy kollegas dikwels baie geduld met hom moes hê, veral wanneer sake sy volle aandag geëis het.
Buiten sy gesin was sy enigste afleiding tuinmaak en draf. Dit het hom gehelp om te ontspan en sy kop ná intense ondersoeke skoon te maak.
Janse van Rensburg het verskeie hoëprofiel-sake opgelos, onder andere die Scholtz-moord, die moord op redakteur en joernalis van Suid-Kaap Forum, Alet Roux op 10 Desember 2000, die sogenaamde "kerkmoord", en die brutale moord op 'n nagklubeienaar in Heidelberg.
Sy toewyding en vasberadenheid het talle kriminele agter tralies gesit.
Met sy aftrede sluit 'n era by die Riversdal-polisie af - een van onwrikbare toewyding, beginselvastheid en 'n passie vir geregtigheid.
Dit is 'n groot prestasie om jou hele loopbaan by een polisiestasie te begin en by dieselfde een af te sluit.
Janse van Rensburg laat 'n onuitwisbare nalatenskap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’