Update
HEIDELBERG NUUS - Cameron Dugmore, ANC LPR en leier van dié streek het Vrydagoggend 14 Julie Kairos Senior Sekondêr besoek.
Hy het leerders by die wiskunde-winterskool toegespreek en aangemoedig om wiskunde as vak tot matriek te behou.
Die toenemende aantal skrander leerders wat die dorp jaarliks verlaat om by buurskole wiskunde en wetenskap verder te gaan leer, het ANC-leiers erg omgekrap.
Dié probleem is met die skoolhoof, Vivian Prins en Thomas Pretorius, beheerliggaamvoorsitter bespreek. Saam met Mark Nicholls, ANC-leier op Heidelberg is besluit om 'n winterskool vir wiskunde by die skool aan te bied, wat leerders van ander skole ook mag bywoon.
Dit sou die begin van 'n instelling wees, waar gereeld op hierdie twee vakke gefokus word. Die doel is ook om leerders wat hulp nodig het, by te staan.
Dugmore is genader
As onderwyser en voormalige lid van die provinsiale raad vir onderwys, het hy die probleem dadelik verstaan. Hy het borge gekry wat die fasiliteerder se toelae en reiskoste, sowel as maaltye vir die leerders betaal het.
Mnr. William Jacobs en Cameron Dugmore.Legendariese wiskunde-onderwyser, William Jacobs, het 'n klas van 25 leerders gedurende die laaste week in die vak onderrig.
Jacobs, wat in 1976 as wiskunde-onderwyser by Pacaltsdorp Sekondêr begin het, was al by verskeie wiskundeprojekte betrokke, onder andere Petro SA, Khanya Project en Hope@Maties.
Dugmore het Jacobs, asook die ANC-leiers in die dorp en veral Nicholls vir hul leierskap in hierdie opsig bedank.
Die skool en die leerders sien na 'n soort-gelyke opvolgsessie in die Septembervakansie uit.
Ter afsluiting het Dugmore die ANC se visie vir die jeug aan alle matrikulante voorgehou: Verdere studies, om te begin werk, jou eie besigheid te begin, vrywillige werk en reis; en/of deur te werk in 'n ander land (hy kan hiermee van hulp wees).
Voor is Cameron Dugmore, mnr. William Jacobs en mnr. Vivian Prins. Agter is die leerders wat die wiskunde-winterskool bygewoon het.
Mnr. William Jacobs by een van die leerders. Foto's: Alex Marshall, korrespondent
Lees 'n vorige artikel: Winterskool vir wiskunde
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'