STILBAAI NUUS - 'n Sterk wind en fyn motreën het die 172 drawwers Sondagoggend, 21 Desember, begroet toe hulle vir die 5 km- en 10 km-wedlope op die strand by Lappiesbaai aangetree het.
Die wedlope word jaarliks aangebied om fondse vir die Jagersbosch Gemeenskapsorgdienssentrum in te samel, en vanjaar het die slegte weer beslis 'n negatiewe invloed op die deelnemertal gehad.
Gelukkig was dit laagwater, wat harde, nat sand van Lappiesbaai tot by Preekstoel en weer terug beteken het.
Die jong Niané van Niekerk van Pretoria het 'n pragtige wedloop gehardloop en die 10 km vir vroue gemaklik gewen. Phillip Maree, wat die vorige dag tweede geëindig het in die parkrun, het koning gekraai in die 10 km vir mans.
Die 5 km-wedloop vir vroue is vir die tweede jaar in 'n ry gewen deur Lienke Visser van Kempton Park, terwyl die manswenner Sebastian Steenekamp was - kleinseun van Nico Steenekamp - in 'n tyd van 19:12.
Volgens Clifton Donald, organiseerder van die wedlope, maak Jagersbosch grootliks staat op skenkings en donasies, en die inskrywingsgeld van hierdie wedlope sal weer help om 'n paar finansiële gaatjies toe te stop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’