RIVERSDAL NUUS - Hoërskool Langenhoven se jaarlikse o. 13-netbaltoernooi het Vrydag 6 Maart afgeskop en duur tot vandag 7 Maart, met 22 spanne van regoor die Wes- en Suid-Kaap wat mekaar op die bane aandurf.
Die toernooi het drie jaar gelede begin as ’n droom van Petrusa Marais, sameroeper van Wes-Kaap Hoërskole Netbal.
Destyds het 20 skole deelgeneem, maar vanjaar het die toernooi gegroei tot 22 spanne wat van so ver as Gqeberha in die Oos-Kaap tot Kaapstad in die weste reis om deel te neem.
Volgens die organiseerders is die doel van die toernooi om jong netbalspelers ontwikkelingsgeleenthede te bied en hulle voor te berei vir die seisoen wat voorlê.
Spelers en afrigters kry ook die kans om hul vaardighede te slyp en ervaring op te doen teen sterk teenstanders.
’n Verdere hoogtepunt van vanjaar se toernooi is dat skeidsregters die geleentheid kry om tydens die wedstryde tot op provinsiale vlak te gradeer.
Die spanne is in vier poele verdeel en sluit onder meer skole soos Bertie Barnard, De Kuilen, Paarl Gimnasium, Panorama, Courtrai, Jeffreysbaai, George-Suid, Volschenk, Ashton, Kabega, Knysna, Swellendam, Brackenfell, Hermanus, Milkwood en Lochnerhof in.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’