RIVERSDAL NUUS - Hoërskool Langenhoven het rede om fees te vier! Die skoolhoof, Henco Smith, en onderwyseres, Marizel le Roux, is met groot trots op 20 Junie genomineer vir die gesogte nasionale onderwystoekenning (NOT) - 'n erkenning aan uitnemendheid in onderwys.
Le Roux is genomineer in die kategorie, Uitnemendheid in Sekondêre Skoolonderrig, en het as tweede naaswenner (derde plek) in die Eden en Sentraal-Karoo-distrik geëindig.
Hierdie prestasie onderstreep haar toewyding, passie en uitnemende onderrigvermoë in die sekondêre onderwys.
Smith is op sy beurt aangewys as die wenner in die kategorie, Uitnemendheid in Sekondêre Skoolleierskap, vir die hele Eden en Sentraal-Karoo-distrik.
Hy sal die distrik in Julie by die provinsiale ronde van die toekennings verteenwoordig.
Die nasionale onderwystoekennings, wat jaarliks deur die departement van onderwys aangebied word, gee erkenning aan onderwysers en leiers wat 'n uitsonderlike bydrae tot leer- en gemeenskapsontwikkeling maak.
Die Langenhoven-skoolgemeenskap is trots op hierdie prestasies wat nie net die individu se harde werk uitlig nie, maar ook die gehalte van onderwys in Riversdal bevestig.
"Dit is 'n eer om saam met sulke passievolle opvoeders te werk," het 'n woordvoerder van die skool gesê.
"Smith en Le Roux se prestasies dien as inspirasie vir personeel, leerders en die breër gemeenskap."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’