RIVERSDAL NUUS - 'n Eenvoudige, pynlose prik met 'n naald kan 'n man van die ernstige nagevolge van prostaatkanker red.
Mans van 40 jaar en ouer kan hulle tydens Julie vir dié kanker laat toets as deel van KANSA se bewusmakingsmaand.
Volgens die 2014 nasionale kankerregister kan een uit 19 mans dié soort kanker kry.
"Die Wes-Kaap departement van gesondheid beveel aan dat alle mans, veral die bo 40, hul naaste kliniek besoek indien hulle enige bekommernisse oor hulle gesondheid het," sê Nadia Ferreira van die departement. "Pasiënte word op primêre gesondheidsorgvlak ondersoek en, indien nodig, na 'n distriks- of streekhospitaal vir verdere behandeling verwys." Volgens haar word bloedtoetse by klinieke gedoen indien dit van die behandelingsterapie deel vorm, maar nie as 'n voorkomende siftingsproses nie.
Wat is die simptome in 'n gevorderde stadium?
Omdat prostaatkanker dikwels sonder enige simptome ontwikkel, word dit dikwels eers in 'n gevorderde stadium diagnoseer.
Dit kan die volgende insluit:
- Gereelde urinering, veral in die nag;
- probleme om te urineer;
- pynlike- of brandgevoel gedurende
- urinering of ejakulasie;
- urine wat lek;
- bloed in die urine of semen; en
- diep pyn in die laerug, heupe of bobene.
Hoe kan die risiko verlaag word?
Aan sekere risikofaktore soos familiegeskiedenis en ouderdom kan jy niks verander nie, maar jy kan 'n gesonde leefstyl handhaaf. Dit sluit 'n gesonde dieet sonder baie rooivleis of hoë-vet suiwelprodukte en 'n oormaat alkohol in. Mans moet ook 'n gesonde gewig handhaaf, wegbly van tabakprodukte en nie steroïede-produkte gebruik nie.
Hoe stel jy vas of jy prostaatkanker het?
Sifting word met 'n prostaat-spesifieke antigeen of PSA-bloedtoets, wat help om prostaat-abnormaliteite op te spoor, gedoen. Die PSA-toets word gewoonlik, maar nie noodwendig nie, met 'n digitale rektale ondersoek gekombineer. KANSA beveel ook aan dat mans rondom 50 jaar, maar verkieslik vroeër indien 'n familiegeskiedenis daarvan bestaan, die toets laat doen. Dit kan gedurende Julie teen 'n spesiale prys by Pathcare of KANSA se sentrums of mobiele klinieke gedoen word.
Hoe word dit behandel?
Behandeling hang af van die persoon se ouderdom en hoe gevorder en aggressief die kanker is. Die moontlikhede sluit chirurgie, bestraling, chemoterapie en hormoonbehandeling in. Gelukkig is die prognose vir prostaatkanker goed, mits dit vroeg gediagnoseer en behandel word.
Kontak jou naaste KANSA-kantoor vir meer inligting by die tolvrye nommer 0800 22 66 22, besoek die webwerf by www.cansa.org.za of stuur 'n WhatsApp na 072 197 9305.
Kom meer te wete oor prostaatkanker.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'