RIVERSDAL NUUS - Ontdek en ervaar, lééf en bewaar! Dit is die boodskap wat natuurkenners onlangs in hul praatjies by Riversdal se tuinbouklub gelewer het.
Die sprekers was Linda Fletcher, die volhoubaarheidsbestuurder, en Louis Jordaan, die Klein-Karoo se voorligtingsbeampte. Hulle is albei verbonde aan die Gouritz-groepsbiosfeer-reservaat (GCBR).
Hulle het die doel en werking van die GCBR verduidelik.
Die GCBR poog om veilige ekologiese ruimtes op landskapvlak te verbind. Dit is krities vir die langtermyn-oorlewing van wilde diere en plante, veral in die konteks van klimaatsverandering.
Dit word bereik deur 'n vennootskap met gewillige grondeienaars om strategieë vir die effektiewe implementering van brandbestuur, suksesvolle beheer van indringerplante en verbeterde rivier- en vleilande-gesondheid te verseker.
In die afgelope tien jaar is ‘n aantal sonderlinge ekologiese mylpale behaal:
• 131 464 hektaar grond is by die ekologiese korridorprogram ingesluit
• 107 grondeienaars neem deel
• 7 394 hektaar grond wat deur indringerplante bedreig word, is skoongemaak
• 643 676 inheemse plante/bome is geplant
• 679 hektaar is met inheemse plante/bome beplant
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’