STILBAAI NUUS - Die jeug is dálk môre se leiers, maar bejaardes hét gister gevestig en die toekoms geskep.
Bejaardes verdien koestering, respek en versorging.
Daarom het die Hessequa-streek se kunstenaars besluit om 300 oorspronklike A5-skilderytjies ten bate van die Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum in Stilbaai te skenk om verkoop te word tydens die derde Night of Art-glansgeleentheid.
Die sowat honderd werke, wat ná die aanvanklike veiling op 21 September oorgebly het, is verskuif en verlede naweek tydens die Gratitude Expo en die Hessequa-kunsroete se opedag-ateljeekonsep uitgestal.
Dit was die blink gedagte van die sosiale media-beïnvloeder Irma Huysamer, wat verskeie skrywers, uitvoerende en beeldende kunstenaars bemark.
Die kunstenaars Sonja Magerison, Marina Stadler en Trudie Buys Schoombee het ingestem om dié uitreik te omhels en die oorblywende kunswerke in hul uitstalruimtes ten toon te stel.
Kunsliefhebbers meen dié kleinkunswerke spog met puik, kreatiewe gehalte. Daar is nog net sowat sewentig werke oor.
Stilbaaiers en vakansiegangers van wie vele se ouers en familielede gebruik maak van die verskeie dienste wat Jagersbosch vir bejaardes aanbied, het nou die geleentheid om 'n oorspronklike A5-skildery te besit en hul omgewing te verfraai.
Gastehuis-eienaars word genooi om hul ondernemings met dié werke te verfraai en daardeur nie net Jagersbosch te ondersteun nie, maar ook die streek se kunstenaars aan besoekers bekend te stel.
Mense buite die Hessequa-streek kan ook die trotse eienaar van dié skilderytjies word. Die werke sal per koerier, vir die aankoper se koste, versend word. Die werke is teen ‘n skenking van R100 elk beskikbaar.
Die oorblywende skilderye kan op Facebook besigtig word - met detail en daaglikse opgraderings oor wat nog by die twee uitstallers beskikbaar is.
Vind ‘n skildery, verleen kleur teen ‘n muur of gee dit as 'n geskenk vir 'n geliefde.
Dit is ‘n deernisgebaar en omgee-uitreik deur die gemeenskap vir die gemeenskap.
Die werke kan nog by Trudie Buys Schoombee (Reservoirstraat 20, Stilbaai-Wes) en by Sonja Margerison en Marina Stadler (Stilbaai Gratitude Expo, Hoofweg 11, Stilbaai-Oos) besigtig word.
* Tree gerus met Irma Huysamer by 060 822 2195 in verbinding vir nadere inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’