HEIDELBERG - En toe tréf die kultuurknal 'n historiese plattelandse dorpie!
Musiek, teater en kuns het in die aardpot gekook, gestoom en geprut - en in geur en kleur, klank en tekstuur ontplof en soos die reënboog oor Heidelberg versprei.
Dit is Dinsdag, 19 September 2023. Ses dae lank het die sesde Hessequa Harmonie-kunstefees die streek aan die hele land bekend gestel.
En, op die sewende dag - 24 September - het Suid-Afrikaners anderste en tog só eenderste erfenis gevier.
Kunsliefhebbers het van Mosselbaai, Hartenbos en George aan die een punt en van Hermanus, Stellenbosch en Kaapstad aan die anderkant opgedaag, oorgebly en die gasvryheid van die dorp se gastehuise ervaar.
Elke dag, vroegoggend, het die leesgieriges 'n boekegesprek – Boeke-brekfis - in die rustige omgewing van die Doornboom-opstal (Fouriehuis) bygewoon en van hul gunstelingskrywers ontmoet, terwyl hulle botterbroodjies, tee of koffie kon geniet; geestelik gevoed vir die dag se winkende verrassings.
Deur die dag tot saans laat kon feesgangers spys en drank by die dorp se kuierplekke -Proeviand, Die Rooi Pot, Inspired, Copper Blue, Blue Crane, Die Skeerhok, Kombuiskaskenades, Spenslojyt, Kareetree en Délish - geniet.
Smaaklik!
Maar die heerlikste van alles was die geregte op die kultuurspyskaart: met 20 opwindende aanbiedinge.
Daar was komedie met patos, drama met murg, kabaret wat peins, musiek wat meevoer, glansryke leefstylproduksies, aangrypende plekspesifieke teater, gemeenskapgedrewe uitreikkonserte, 'n uitbundige marimba-makietie en 'n onoortreflike straat-soirée. En 'n rits verfrissende kunsuitstallings.
Terwyl die feesgangers 'n oomblik van die wêreld se werklikhede ontvlug, beur die dorpenaars ongestoord voort. Enkeles drentel voor die hotel in Van Riebeeckstraat rond, waar feesgangers op die stoep agter witgeverfde staaltralies verpoos, kuier, eet en drink. Hul oë smag na 'n proeseltjie van die swier, maar hulle vra met palms na bo net 'n entjie of 'n sentjie. Hulle kry sigarette en geld, verdwyn om die hoek en baljaar 'n rukkie later luid agter by die kroeg-ingang op die sypaadjie met 'n anonieme wyn in 'n plastiekkannetjie. Nou is dit hulle paartie!
Die kerkklok beier 'n entjie verder straataf en roubeklaers vind troos by 'n oop graf terwyl hulle van 'n geliefde afskeid neem.
In 'n systraat volg 'n ánder stoet: 'n troukar met ballonne getooi en 'n huwelikspaartjie wat in die eg gebind is en die toekoms inry.
Dit is aand. Die NG-kerkgebou verhelder. Dit is tyd vir die gala-konsert. Talle mense, wat meestal verdeeld is en vervreemd voel, verenig in harmonieuse samesyn.
Vroeg Saterdagoggend begin dit saggies reën.
Dit is 'n druppelsimfonie wat Hessequa en dié fees in harmonie seën...
Dit verg 'n span om 'n klein fees met 'n groot hart aan te bied. Grant Riddles (tweede van links), die uitvoerende burgemeester van die Hessequa-munisipaliteit, is hier in gesellige luim saam met Hansie Saayman (Eventco-koördineerder, dekor-ontwerper en spysenier van die fees se leefstyl-aanbiedinge), Niël Rademan (uitvoerende hoof van die Hessequa Harmonie-kunstees), Lindi- Heila Smit (feesassistent) en Betsie Ryke (koor- en uitreikprojekte). Foto: Amelia Uys, feesfotograaf.
Raynard Fortuin, Amber Joy Jonas en Moses Realeboha Khati in Rowmonique Kayser se plekspesifieke teateraanbieding van Boesman en Lena deur Athol Fugard. Foto: CJ de Swardt
Die produksie Romantique - met Veronica Bell (viool), Bridget Rennie-Salonen (fluit), Gerhard Joubert (klavier) en Elna van der Merwe (klavier). Tussen die ander musiekhoogtepunte was Amanda Strydom se Ongebonde, die Charl du Plessis Trio en Tango en Tanniene met die akkordeonmeester Stanislav Angelov. Foto: CJ de Swardt
Charlie Bouguenon in Rudi van Rensburg se komedie Hans steek die Rubicon oor - met regie deur Lizz Meiring. Die drama-hoogtepunt was Antoinette Kellerman in haar eenvroustuk Teen wil en dank. Foto: CJ de Swardt
Die Riversdaller Charles du Preez (middel) het vanjaar die klank en beligting by al 20 aanbiedinge met behendige professionaliteit behartig. Hier is hy by Lynelle Kenned en Herman Lensing in die produksie VIA Kook & Klassiek. Foto: Amelia Uys, feesfotograaf.
Dié leerders van Hoërskool Heidelberg was die kelners en kelnerinne, onder leiding van Hansie Saayman, hul departementshoof ek kunsonderwyser, wat ook onder die vaandel van Eventco die staat-soirée gekoòrdineer het. Foto: CJ de Swardt
Die sprankelende en immergewilde aktrise Elsabé Daneel het met 'n aantal skrywers oor hul boeke en lewe gesels. Hier is sy by Marita van der Vyver, wie se boeke in talle tale van die wêreld vertaal is. Elsabé het ook onder andere met die Heidelberg-boorling Wium van Zyl oor sy vertaling van George Orwell se klassieke roman Animal Farm na Diereplaas in Afrikaans gesels. Foto: CJ de Swardt
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’