RIVERSDAL NUUS - Op Sondag, 30 Maart, is ’n gesamentlike misdaadvoorkomingsoperasie onder leiding van sers. Jakobus Spangenberg van Langeberg K9 van stapel gestuur.
Volgens Spangenberg was die fokus van die operasie op die middedorp en omliggende gebiede om dronkenskap en moontlike ernstige kontakmisdade te bekamp.
Spangenberg, vergesel deur ao. Hans Busch, sers. Garnet Damans en senior buurtwaglid Lee-John Valtyn, het in totaal 12 verdagtes in hegtenis geneem - vier vir die besit van gevaarlike wapens en agt vir dronkenskap in die openbaar.
Tydens die operasie is verskeie skerppuntwapens, insluitend veranderde messe wat aangepas is om ernstige beserings toe te dien, op beslag gelê en sal binnekort vernietig word.
Spangenberg het ’n duidelike en onwrikbare waarskuwing gerig aan dié wat hul skuldig maak aan misdade, ongeag hoe gering of ernstig.
"Die wet gaan nougeset toegepas word – ons gaan nie toegee aan wetteloosheid nie. As jy ’n misdryf pleeg, maak gereed vir die gevolge," sê Spangenberg.
Plaaslike stasiebevelvoerder, lt. kol. Delicia Isaacs, het haar opregte waardering uitgespreek teenoor die betrokke lede vir hul toewyding, professionele optrede en onbaatsugtige diens in die stryd teen misdaad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’