RIVERSDAL NUUS - Toenemende verkeer, ‘n gebrek aan parkeerplek, verskeie tref-en-trap-voorvalle waartydens motorryers mense op motorfietse en fietse getref en lewenslank vermink en/ of dood agtergelaat en daarmee weggekom het, het die geesdriftige en toegewyde gemeenskapopheffer Betsie van Noordwyk gedryf om na een van haar talle drome vir die Hessequa-streek te tráp!
“Ek het ‘n behoefte geëien vir 'n plekkie waar ouers hul kinders kan neem waar hulle veilig kan leer fietsry. Die dorp se paaie en woonbuurte se strate is bloot nie meer die ideale plek daarvoor nie,” sê sy.
Dit is duur om sulke infrastruktuur te skep. Sy moes uitreik na hulp.
Die aangewese plek was die ruimte by die Junior Traffic Centre (JTTC), wat ‘n geruime tyd reeds nie benut is nie.
Ander mense glo aan haar droom en het gehelp. ‘n Inwoner, wat deesdae in Amerika werk, het met ‘n finansiële skenking en ‘n verfborgskap van Jack’s Paint ruim tot dié projek bygedra.
Die maatskappy Transand, wat nou bedrywig is om van die dorp se strate oor te teer, het sónder ekstra vergoeding besluit om iets aan die gemeenskap te skenk en het derhalwe die baanoppervlak oorgeteer en afgerond.
Riversdal se saagmeule het houtpaaltjies geborg om die baan af te sper, sodat die ruimte nie meer, soos in die verlede, toeganklik vir voertuie is nie. Hessequa-munisipaliteit se tegniese span het die versperrings opgerig en die verkeersafdeling het die baanontwerp en streepuitleg behartig.
Op die grasperk is daar ook swaaie en ‘n glybaan.
Dié opheffende gemeenskapsprojek is oorkant die Dibiki-toeristeoord geleë.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’