STILBAAI NUUS - As die luggie dalk nog té koel is en die wind ‘n bietjie woes op Stilbaai se blouvlugstrande waai, kan inwoners en vakansiegangers die warmte van inkleurpret en die genot van fynbosrangskikkings in dié pragtige kusdorpie geniet.
‘n Opwindende inkleurkompetisie word in samewerking met Grattitude Real Estate, Kiewiet Eiendomme en die prysborg, die Fynbos-apteekgroep, tot 26 September aangebied.
Woensdag 25 September kan mense hul kreatiwiteit vry laat vlieg en die streek se fynbos rangskik.
Die temas is Sing jy van blomme? en Afrikaners is plesierig. Dit vind van tienuur die oggend tot halfeen die middag plaas.
“Jy kan aan een of albei temas deelneem - met die keuse om jou vernuf met ‘n klassieke aanslag of met moderne, vrystyl uit te beeld,” sê die kunstenaar Sonja Margerison.
Twintig mense wat met Alzheimer se siekte gediagnoseer is, het ook ingeskryf. Kuns word as terapie beskou.
Dié projekte is deel van haar en die mede-kunstenaar Marina Stadler se uitstalling by die Stilbaai Gratitude Expo, wat met die Stilbaai-fynbosfees saamval.
Die plek om vandeesweek te besoek, is Hoofweg-Oos 11, oorkant die Tuin op die Brak.
Kom, toets jou kunssinnige vernuf en rangskik en kleur in!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’