Update
STILBAAI NUUS - Die volgende geleentheid om groen indringers op erf 657 die stryd aan te sê is op Saterdag 9 November.
Volgens Deon Begemann word Stilbaai Bewaringstrust se projek om indringerplante in die dorp uit te roei goed ondersteun.
Tydens die vorige kap op 12 Oktober het 21 toegewyde kappers die bosse langs die gholfbaan ingevaar. Die span het gewapen met kragsae en ander toerusting 'n digte bos rooipitjie getakel terwyl Coastal Cleanup sakke vol rommel bymekaar gemaak het.
Hessequa-munisipaliteit het intussen volgens Begemann twee van hul omgewingspanlede beskikbaar gestel om ad hoc indringers langs die paaie, op die gholfbaan en langs die rivier af te sny. Hulle het ook die wandelpaaie in die Skulpiesbaai-reservaat met opgekerfde rooipitjiesaagsels bedek. Stilbaai Bewaringstrust bedank Shagon Carelse (hoof omgewingsdienste) en sy span vir hul werk.
Almal wat aan die volgende kapsessie wil deelneem moet om 10:00 by die hek van die gholfbaan bymekaar kom. Navrae kan aan Begemann by 082 440 7910 gerig word.
Lees 'n vorige artikel: Kom slaan 'n slag teen indringers
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'