SWELLENDAM - Byna ’n maand ná die dood van ’n 15 maande oue kleuterseuntjie is ’n 46-jarige vrou in verband daarmee in hegtenis geneem.
Die vrou, wat na bewering vir die kleuter se versorging verantwoordelik was, is Vrydag 20 November in hegtenis geneem nadat die nadoodse ondersoek kommerwekkende nuwe inligting aan die lig gebring het.
Volgens AO Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die polisie Maandag 26 Oktober omstreeks 18:30 na ’n woning in Railton ontbied. Met hul aankoms het die polisielede die kleuter bewusteloos op ’n bed in een van die slaapkamers aangetref.
Hy het nie gereageer nie, en die paramedici het hom kort daarna op die toneel dood verklaar.
’n Geregtelike doodsondersoekdossier is aanvanklik vir verdere ondersoek geopen. Tydens die nadoodse ondersoek het inligting egter aan die lig gekom wat op moontlike misdadige optrede dui. Die ondersoek is gevolglik na ’n moordsaak opgegradeer.
Verdere ondersoek het ook aan die lig gebring dat die kleuter na bewering voor sy dood seksueel aangerand is. ’n Bykomende aanklag van verkragting is gevolglik teen die beskuldigde gevoeg.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Wes-Kaapse Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het bevestig dat die beskuldigde Maandag 23 November in die plaaslike landdroshof verskyn het.
Die saak is tot Dinsdag 1 Desember uitgestel sodat haar regsverteenwoordiger amptelik op rekord kan kom en haar borgtogaansoek aangehoor kan word.
Die beskuldigde, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie, staan tereg op aanklagte van moord en verkragting.
Die voorval het wyd reaksie op sosiale media ontlok. Julian Matthysen, herverkose wyksraadslid, het sy misnoeë uitgespreek oor dié soort misdaad, wat volgens hom toenemend deel van die samelewing se werklikheid word.
Hy het dit veral kommerwekkend genoem dat sulke misdade steeds jaar ná jaar voorkom, ondanks pogings om bewusmaking te skep en geweld teen vroue en kinders te bekamp.
Die voorval kom boonop in die aanloop tot die jaarlikse 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders.
Die kleuter is Sondag 8 November ter ruste gelê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’