ALBERTINIA - Die veldbrand suidoos van Albertinia in die Hessequa-munisipale gebied is Saterdagoggend, 28 November, steeds buite beheer, ondanks intensiewe pogings deur brandbestrydingspanne om die vuur deur die nag te beperk.
Volgens die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (GRDM) is aansienlike werk gedurende die nag gedoen om brandbane te ploeg en die vuur op plekke waar dit toeganklik is, te bestry.
Die regterflank (suidelike flank) van die brand is steeds nie onder beheer nie. Die terrein is egter nie geskik vir swaar brandbestrydingsvoertuie nie, wat die operasie bemoeilik. Lugondersteuning vir hierdie gebied word oorweeg weens die ongunstige windvooruitsigte.
Die noordoostelike flank brand tans in ’n kloof, naby strukture. Brandbestrydingspanne is op die toneel om dié strukture te beskerm. Geen strukture is tot dusver deur die brand vernietig nie.
Die onmiddellike prioriteite is om vyf strukture te beskerm, te voorkom dat die brand vanaf die regterflank na ’n wildsplaas versprei en te keer dat die vuur oor die R325 beweeg.
Die wind bly ’n groot bron van kommer, met windspoed wat na verwagting tot 35 km/h kan toeneem.
Die GRDM doen ’n beroep op inwoners om waaksaam te bly en enige noodgevalle by die noodoproepsentrum aan te meld.
Die noodoproepsentrum kan by 044 805 5071 of via WhatsApp by 081 709 5193 bereik word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’