HESSEQUA NUUS - Kinders van Riversdal het die afgelope vakansie vanaf 23 tot 28 September aktief deelgeneem aan die Vakansie Bybelskool wat deur die kinderbediening van die Sewendedagse Adventiste aangebied is.
Dit het by Laerskool Volschenk vanaf 09:00 tot 12:00 plaasgevind en is deur Marieke Smit en Linda van der Westhuizen, die evangelisasie leier, gelei.
Die tema vir die vyf dae was 'Op 'n seiljag saam met Jesus.'
Die kinders het elke dag 'n vol program gehad met 'n spesifieke vers wat by hulle tema aangesluit het. Hulle het stories geluister, liedjies gesing, handwerk- en buitelugaktiwiteite gehad. Tussendeur het die kinders ook elke dag iets gekry vir die honger magies. Tussen al hierdie aktiwiteite het die kinders ook hard geoefen vir die konsert.
Die Bybelskool het Saterdag 28 September afgesluit met die konsert wat spesiaal vir die ouers opgevoer is. Daarna het die kinders elkeen 'n sertifikaat gekry met 'n geskenkpakkie wat 'n CD met liedjies, sangbundel met aktiwiteite, en 'n leesboekie genaamd Skuiling in die Storm insluit.
Dit was 'n reusesukses met 44 kinders tussen die ouderdomme van 6 en 12 jaar. Smit het beklemtoon dat dit nie moontlik sou wees sonder die gemeenskap en plaaslike besighede se ondersteuning en bydraes nie. Hulle hoop om elke jaar net groter te gaan en meer kinders van Jesus te leer.
Elke kind het 'n geskenkpakkie saam met hul sertifikaat ontvang om hulle te herinner wat hulle alles geleer het tydens die Vakansie Bybelskool.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’