STILBAAI NUUS - Kersvader, sneeu en die heerlike geure van vars voorbereide kos het Vrydagaand, 3 Julie, die feestelike atmosfeer geskep toe Stilbaai se gewilde Christmas in July weer Voortrekkerstraat in 'n winterse kersfees-toneel omskep het.
Nie minder nie as 34 stalletjies het reeds van vroegmiddag af in en om Voortrekkerstraat verrys. Teen die amptelike opening om 17:00 het die straat reeds gewemel van inwoners en besoekers wat die fees kom geniet het.
Van smaaklike etes en geurige koffie tot handwerk, geskenke en unieke snuisterye - daar was iets vir elkeen. Die kosstalletjies was besonder gewild en moes lang rye honger besoekers bedien.
Musiek deur Robert Bolton het die feesstemming verder aangevuur, met talle mense wat saamgesing en selfs die dansvloer aangepak het.
Vir die jongspan was die hoogtepunt egter Kersvader se aankoms. Teen 19:00 was die opgewondenheid tasbaar toe die kinders ongeduldig begin uitkyk het vir die man in die rooi pak. Hulle is nie teleurgestel nie toe Kersvader hoog op sy slee sy opwagting maak. Sy rit is egter kortgeknip toe opgewonde kinders hom by die sneeu ingewag en tot stilstand gedwing het vir foto's en geselsies.
Die organiseerders, Adolf Botes en Johannie Vermeulen van Stilbaai Kelders, kan met reg trots wees op vanjaar se aanbieding. Hul breinkind het oor die jare gegroei tot een van Stilbaai se gewildste wintergeleenthede en die toenemende bywoning is 'n bewys dat Christmas in July elke jaar net groter en beter word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’