Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Brande is 'n algemene gesig nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd hetsy dit 'n veldbrand-, huis-, besigheid of voertuig is wat brand.
Daarom is dit belangrik dat elke landsburger moet weet wat om te doen indien dit met hom of haar gebeur.
Veral vir besighede is dit noodsaaklik dat iemand oor die nodige inligting beskik, soos oor watter soort brand dit is, hoe om dit te bestry en belangrikste: om almal wat in die gebou mag wees, na veiligheid te lei.
Min mense weet byvoorbeeld dat alle brande nie met water geblus kan word nie. In 'n kombuis waar kos voorberei word, is dit belangrik om oor 'n brandkombers (fire blanket) te beskik, veral wanneer olie aan die brand slaan. Is so 'n geval moet die kombers ook nie self verwyder word wanneer dit voorkom of die olie opgehou brand het nie, maar die brandweer ontbied word sodat 'n opgeleide brandweerbeampte dit doen.
Meeste brande word boonop deur mense veroorsaak. 'n Roker gooi dalk sy stompie by 'n motor se venster uit, kinders wat met vuurhoutjies speel, ontvlambare materiale wat op hout gegooi word wanneer daar gebraai word en chemikalieë wat onveilig gebêre word, is maar 'n paar voorbeelde.
Brande kan ook deur gereedskap wat vonke maak, elektrisiteit, gasse of chemikalieë wat nie versoenbaar is nie en gemeng word, veroorsaak.
Gelukkig besef baie besighede in die Hessequa-streek, waaronder Suid-Kaap Forum die belangrikheid om personeel vir brandbestrydingsopleiding te stuur.
Buiten 'n brandbestrydingskursus het SafeTech vanaf 1 tot 3 Maart ook noodhulpkursusse by die Thusong-sentrum op Riversdal aangebied.
Kyk 'n video hieronder:
Vorige artikel: Weet jy wat om te doen as dit brand?
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'