KAROO NUUS - Onlangse studies het bevestig dat egte, GI-gewaarborgde Karoo Lam gesonder is én ’n meer unieke Karoogeur het as lam wat met graangebaseerde aanvullings gevoer is en dié wat geheel en al in voerkrale geleef het.
Onder Suid-Afrikaanse wetgewing is Karoo Lam 'n geregistreerde geografiese aanduiding wat waarborg dat die lammers wel op Karooveld gewei het.
Volgens ’n persverklaring wat op 30 Junie deur die Karoolam-konsortium uitgereik is, het twee onlangse studies van die Universiteit Stellenbosch wetenskaplik bewys dat lammers wat op dié streek se natuurlike veld wei, ’n unieke Karoogeur en meer voedingsvoordele as voerkraal-lammers het.
Die invloed van voeding
Professor Phillip Strydom van die departement veekunde aan die Universiteit van Stellenbosch het gekyk na hoe verskillende voedingstrategieë die voedingswaarde, geur en rakstabiliteit van lamsvleis beïnvloed.
Dié studies het gefokus op drie voedingstrategieë.
Lammers wat uitsluitlik op Karooveld gewei het, het ’n gunstiger vetsuurprofiel.
Hulle toon ’n laer verhouding van omega 6- tot omega 3-vetsure, wat meer ooreenstem met die aanbevole balans vir menslike gesondheid.
In teenstelling hiermee het die tweede kategorie, lammers uit voerkrale, verhoogde vlakke van omega 6 getoon, wat met inflammasie geassosieer word.
Die veld- en Karoogeur en -smaak het egter behoue gebly.
Die derde kategorie was lammers wat steeds toegang tot Karooveld gehad het en wie se dieet verantwoordelik aangevul is.
In hierdie lammers het die ware Karoogeur ook behoue gebly, veral wanneer hulle op ’n lewendige gewig van meer as 40kg geslag is.
Kleur
Een van die eerste kwaliteitseienskappe waarna die verbruiker kyk wanneer hulle vleissnitte kies, is kleur.
Ook hier het die vleis van lammers wat op Karooveld gewei het of toegang daartoe gehad het, uitgestaan met beter kleurstabiliteit tydens raklewe.
Dit is die gevolg van natuurlike antioksidante wat in Karoo-plantegroei voorkom.
Samevattend het die studieresultate dus gewys dat lammers in die Karooveld wat byvoeding ontvang, steeds die unieke Karoo-identiteit behou, veral as die optimale slaggewig toegepas word.
Beskikbaarheid van Karoo Lam
Volgens die konsortium is Graaff-Reinet steeds die juweel van die Karoo waar mens verseker kan wees dat jy egte Karoo Lam in die restaurante en by kleinhandelaars sal kry omdat slagters en kleinhandelaars in die Graaff-Reinet-streek besluit het om Karoo Lamprodukte in ooreenstemming met die GI-regulasies te bemark.
Graaff-Reinet-slagpale is as ’n goedgekeurde Karoo Lam-slagpale geregistreer.
As sulks mag hierdie slagpale lammers wat van geregistreerde Karooplase afkomstig is waar vrylopende weiding op die Karooveld toegepas word, slag en rolmerk.
Die departement van landbou het die reëls in die staatskoerant uitgevaardig om Karoo Lam te definieer en te beskerm teen misbruik en toeëiening.
Daar is 20 plase wat by die Karoo-lamkonsortium geregistreer is.
Nie alle lamsvleis wat op restaurante se spyskaarte "Karoolam" genoem word, is gewaarborg dat dit uit die Karoo kom nie.
Net so impliseer talle ondernemings in Graaff-Reinet dat hulle Karoo Lam verkoop, terwyl die slagpale geen rekord het van enige geregistreerde Karoo Lam wat geslag is nie.
As jy die voordele van egte Karoo Lam wil geniet, maak dus seker of die instansie waar jy dit wil koop of eet, geregistreer is as 'n Karoo Lamverspreider.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’