STILBAAI NUUS - Die Soetfontein Senior Burger-klub van Melkhoutfontein het Woensdag 18 Oktober 'n wonderlike geleentheid vir kankerbewusmaking gehad.
Die dag het begin met 'n staptog vanuit Harmoniepark tot by die Soeterus-saal.
By die vertrekpunt het Rinda Swanepoel en Zebi Boshoff eers op hulle ramshorings geblaas om die groep geestelik in te stel.
Die stappers, geklee in pienk en met pienk en wit ballonne, het lustig gesing en op sekere punte gestop om eers 'n gebed te doen.
Vyftien gr. 9-leerders van Melkhoutfontein het saamgestap in 'n poging om kankerbewustheid by kinders te versterk.
By die saal aangekom, is hulle begroet met 'n pragtig versierde saal wat deur Sharon Davids en haar span gedoen is.
Kragtige getuienis deur kankeroorwinnaars soos Amanda Jordaan, Linda Pieterse en Magda Niemand het die boodskap duidelik uitgedra dat kanker wel oorwin kan word deur die krag van geloof en dat jy jou lewe voluit moet leef.
Kankeroorwinnaars. Van links: Amanda Jordaan en Magda Niemand by sers. Chrissy Lewaks van Stilbaai-polisie.
Albert Cloete, voorsitter van die Soetfontein Senior Burger-klub, het in sy verwelkoming gesê kanker kan oorwin word en dit alles gaan oor geloof, hoop en liefde.
Suster Marda van Dyk van Stilbaai-kliniek het uitgebrei oor wat kanker is en genoem dat die selle in 'n mens se liggaam doodgaan en dan vervaardig die liggaam weer selle om hulle te vervang.
Aangesien die liggaam nie die kankerselle herken as abnormaal nie, val die immuunstelsel nie hierdie selle aan nie en dit versprei dan deur jou hele liggaam as jy dit nie betyds ontdek en verwyder nie.
Voorkomingsmaatreëls is onder andere om alkoholgebruik drasties te verminder, op te hou rook en jou vel teen die son te beskerm.
Die optog stop eers sodat Catherine Daries eers 'n gebed kan doen.
Gereelde selfondersoek is belangrik, veral vir borskanker en mans kan hulle laat toets vir prostaatkanker.
Die dag is afgesluit met heerlike eetgoed en daar was geleentheid om 'n kersie te brand vir iemand met kanker en mense wat oorlede is as gevolg van kanker.
Suster Marda van Dyk van Stilbaai-kliniek
Die saal is pragtig versier deur Sharon Davids en haar span.
Rinda Swanepoel doen die gebaredans met geestelike musiek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’