STILBAAI NUUS - Die vierde jaarlikse kunsuitstalling deur die Hessequa-kunsroete se kunstenaars in die kusdorp is vanjaar ‘n kuier-affêre!
Die sameroeper, Marisa de Lange, het ruimtes geskep om 23 van die streek se kunstenaars se kunsvernuf in uiteenlopende genres en dissiplines van 6 tot 8 Desember by die Stilbaai-gemeenskapsaal ten toon te stel. Die tema is, Kuierkuns.
“Mense kom nie Stilbaai toe om kuns te kyk nie. Hulle kom hou vakansie. Maar ons wil vakansiegangers lok om ‘n verrykende en verreikende ervaring te beleef. Daarom het ons ‘n informele ruimte geskep waar nuuskierige vakansiegangers sommer kaalvoet en met ‘n handdoek om die lyf van die strand af kan inloer by die saal.”
Naas skilderye en sketse in akriel, olieverf, waterverf, potlood en steenkool, is daar vanjaar ook ‘n stewige aanbod van fotografie, keramiekkuns en beeldhouwerk.
Sy sê sy voel soms sy vat net hier en los daar, maar dan besef sy sy doen dit met ‘n rede. Sy beheer nie die uitstalling rigied om haar styl en stempel af te druk nie. “Ek bied bloot die geleentheid aan. Die kunstenaars skep en slyp die ruimte met hul sonderlinge, talentvolle individualiteit. Ons wil kuns meer toeganklik vir almal maak.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’