RIVERSDAL NUUS - Riversdal se Jurisch Park kan in 'n lushof en speel- en pretpark omskep word, veral met vermaak en aktiwiteite vir die jong klomp én dit kan 'n toeristetrekpleister wees.
Só se Desiree' Coetzee, 'n passievolle inwoner en die dryfveer agter Future 4 Us, 'n konsep wat primêr daarop gemik is om 'n selfonderhoudende oase te skep, oftewel "self-sustainable biosphere villages and centres".
Jurisch Park is die ideale terrein om so iets op 'n klein skaal te implementeer.
"Dit is ook 'n platform vir die jeug in ons gemeenskap om hul toekoms in hul eie hande te neem en saam te span met gemeenskaplike doelstellings."
Haar fokus en visie is veral gerig op die jeug en sy "glo van harte dat ons generasie alles moet inspan om die jeug te help om vir hulle 'n toekoms te verseker".
Desiree' sê met die luilekker skoolvakansie wat voorlê en die vraag, "Wat kan ons tog doen?"(Suid-Kaap Forum 11 November 2022), is 'n belangrike saak wat aangespreek moet word, hoe om jongmense sinvol besig te hou.
"Veral ná die inperking tydens die Covid-pandemie en die beperkinge wat dit op mense geplaas het om vrylik rond te beweeg, is dit veral noodsaaklik vir die jonger generasie, wat gely het as gevolg van die isolasie en die impak wat dit op hul sosiale en emosionele ontwikkeling gehad het.
"Aansluitend by die nuwe mark in Desember, is daar praktiese doenbare en gesonde ontspanningsgeleenthede wat dadelik gedurende die skoolvakansie aangepak kan word en wat niks hoef te kos nie."
Presies wat dit sê: liplekker straatkos was by die stalletjie te koop.
Sy stel voor buitemuurse aktiwiteite soos suikerkaskenades, oftewel boeresport, soos driebeen- en sakresies, eierhardloop, kruiwastoot, toutrek en dies meer. Ook 'n talentkompetisie vir jong en oud, 'n trampolien en springkasteel, en selfs 'n fietsresies kan maklik aangebied word.
"Tydverdryfsporte soos gimnastrade, oftewel massavertoning van gimnastiek met musiek kan ook aangebied word. Jurisch Park het heelwat geskikte areas waar pretsport beoefen kan word."
Nog idees wat sy voorstel, is 'n kaskarresies vir oud en jonk. "Maats en pa en seuns kan gesond meeding om te kyk wie bou die mooiste of vinnigste kaskar. Bied selfs 'n kompetisie aan vir die vinnigste, mooiste, of mees kreatiewe kar of een wat uit herwinbare materiaal gebou is.
"Daar is reeds 'n sandput, waar mens ook swaaie, 'n glyplank en 'n klouterraam kan byvoeg. 'n Hindernisbaan waar die jongklomp kan klim en klouter, swaai, spring, kruip en balanseer en só van hul oortollige energie ontslae kan raak.
Mens kan selfs 'n ritskabel (zip-line) aanbring om deur die bome af te gly."
Die klerestalletjie sal by veral die vrouegeslag byval vind.
Desiree' sê musikante, waarvan daar talle in Riversdal is, kan hul instrumente bring en "jam" in die tuin saam met ander kunstenaars.
"En 'n minigholfbaan (putt-putt), heerlike familiepret, kan maklik opgerig word sonder dat dit 'n fortuin kos. Net so kan die oprigting van 'n rolskaatsbaan ideaal wees vir die jongklomp. Dit is meer bekostigbaar en prakties om van die grond af te kry as byvoorbeeld 'n ysskaatsbaan."
Desiree' sê die langtermynvisie vir Jurisch Park is om dit te herskep na sy vorige glorie as 'n "idilliese gebeurlikheids- en toerismetrekpleister. Dit is ideaal geleë op die deurgang van die N2 naby die hoofingang en sal maklik die aandag van reisigers trek.
Plaaslike uitstallers van die Riversdal Familie-leefstylmark, met hul varsprodukte, kan ook piekniek- en padkos voorsien vir reisigers. Só kan die mark ook 'n toeriste-trek pleister wees wat ons dorp nodig het."
Die betrokkenheid van gemeenskaps-organisasies, skole, kerke en jeuggroepe kan hierdie visie laat realiseer, reken sy.
"Ons het 'n keuse om óf ons park op te bou en te benut, óf om dit nutteloos te laat verval."
Die springkasteel by die eerste Familie-leefstylmark verlede Saterdag by Jurisch Park was gewild onder die jongklomp. Foto's: Hugo Redelinghuys
Die vragmotor met sy vars groente en vrugte het hordes mense gelok en daar was deurentyd 'n lang ry mense wat geduldig hul beurt afgewag het om hul inkopiesakke te vul.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'