Update
ALBERTINIA NUUS - Carmen Julies is op 25 April vanjaar op drie aanklagte van handeldryf in tik en kokaïen gearresteer.
Haar verskaffer, 'n buitelander wat as Chibuke Anyanen of T-Bag bekend staan, is op 7 Mei gearresteer. Hy het op 9 Mei in Riversdal-landdroshof verskyn.
Julies se borgtogaansoek op Maandag 7 Mei in Riversdal-landdroshof is suksesvol deur konst. Christiaan Zwiegelaar teengestaan. Borgtog is deur landdros Oosthuisen geweier. Albei se sake is tot Donderdag 17 Mei uitgestel.
Zwiegelaar het verantwoordelikheid aanvaar om Julies se bewegings te ondersoek nadat die lid in bevel, sers. JM Spangenberg haar optredes gekoördineer het.
Hy het alle bewegings, affiliasies en algemene betrokkenheid by dwelm- en/of onwettige aktiwiteite met 'n bedekte ondersoek openbaar.
Die 'legkaart' kon voltooi word nadat toepaslike inligting wat tydsaam bekom is, bewys het dat sy nie net aan die plaaslike mark verskaf nie. Haar dwelmaktiwiteite vorm deel van 'n groter netwerk wat vanaf Mosselbaai voorsien word.
Die direkteur van openbare vervolging in die Wes-Kaap het 'n gefokusde optrede goedgekeur om hierdie netwerk bloot te lê. Dit was dus gedurende Augustus verlede jaar wat daar op drie geleenthede tik en kokaïen by Julies aangekoop is.
'n Taakspan is verlede jaar Julie op die been gebring om die euwel van dwelms te ondersoek. Die groephoof, brig. Gerhard Jantjies, het lede onder sy bevel geïdentifiseer vir hierdie ingewikkelde taak om die handelaars, verskaffers en gebruikers te identifiseer. Die projek is Project Sunshine gedoop.
Spangenberg het gesê: "Hierdie lid is 'n absolute aanwins vir die polisie, sowel as 'n voorbeeld vir medelede gegewe die feit dat hy minder as vyf jaar in diens is.
"Met hierdie ondersoek het hy 235 ure onbetaalde oortyd in hierdie spesifieke ondersoek belê."
Volgens Zwiegelaar se getuienis tydens Julies se borgtogaansoek het dit aan die lig gekom dat sy gedurende haar betrokkenheid in die aanklagte swanger was en tik gebruik het.
Hy was geskok dat 'n moeder wat swanger is, haar ongebore kind aan sulke ongewenste middels kon blootstel. Hy het aan die hof genoem dat haar kind ten tye van haar arrestasie vyf dae oud was. Maatskaplike werkers is gevolglik in kennis gestel om na die kind se welstand om te sien.
Die saak word tans ondersoek.
Lees 'n vorige artikel: 2 Vas vir dwelms
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'