STILBAAI NUUS - Voor daar enige sprake was van Stilbaai as 'n vakansiebestemming was die mond van die Goukourivier bekend as 'n visvangplek waar met platboomskuite die see ingegaan is om vis te vang.
Meeste van hierdie vissermanne het in Melkhoutfontein gewoon en het 'n fyn aanvoeling vir die giere van die diep waters gehad. Hulle kon met redeliike sekerheid die dag vantevore bepaal of dit veilig sou wees om die volgende dag see toe te gaan.
Teen ligdag het die skuite al langs die kus by bekende visbakens stelling ingeneem vir die dag se vangs. Elke skuit was toegerus met 'n seil wat gehys kon word, as die wind reg waai.
Wanneer die platboomskuite terugkeer het hulle met die rivier opgeroei tot by Julie-se-Baai waar die vis op perdekarre gelaai is om na Riversdal vervoer te word. Hou in gedagte dat die brug eers in 1955 voltooi is.
In vakansietye het die besoekers die koms van die skuite gretig afgewag. Wes-strand se mense het by die skuitpad, waar die hawe nou is, hulle vis by die bote gekoop en die oewerbewoners het die voorreg geniet om hulle vis by hulle voordeure te kry.
Hierdie en baie ander staaltjies oor Stilbaai van vervloë se tyd tot die vroeë tagtigerjare van die vorige eeu is vervat in Helene Steyn se boek, Stilbaai.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’