ALBERTINIA NUUS - Hy mag nou wel 89 somers agter die rug hê, maar stilsit is nie 'n woord wat jy in Joseph Dean se woordeskat sal teëkom nie. Sy hande moet altyd besig bly.
Joseph vertel hy het reeds op die ouderdom van 60 afgetree. Sy knieë gee hom baie opdraande en maak dit soms baie moeilik om te loop, maar dit stop hom nie om afvalmateriaal bymekaar te maak en hom daarmee besig te hou nie.
Joseph sê hy het aanvanklik begin om met dié afvalmateriaal miniatuur huisies te bou net om daai hande besig te hou en die tyd om te kry. "Die hande," wys Joseph "werk alreeds moeilik saam. Hulle vat nie meer so lekker die klein dingetjies vas nie, maar dit kry my ook nie onder nie".
Vra jy hom waar kom sy inspirasie vandaan, sê hy "dit kom van Bo af, maar natuurlik help sosiale media natuurlik ook soos die YouTube-kanaal om jou te lei, byvoorbeeld hoe om gras te maak, of hoe om 'n dak uit afvalkarton te maak".
Die huisie wat die grootste is, is die een wat die langste geneem het om te maak. Sy naam vir dié huisie is "Mansion."
Joseph het 'n naam vir elke huisie wat hy bou. Daar is Modern Koepel, Mansion, Kerkie, Veehuisie en Gypsy Wagon.
"Om 'n ouderdom te bereik en jy weet nie wat om te doen nie, is senutergend. Jy loop boonop moeilik en moet 'n kierie inspan om dit makliker te maak.
"Maar moenie moed opgee nie," sê Joseph. "Mens kry altyd iets om jou hande mee besig te hou. Maak nie saak op watter ouderdom jy is nie. Moet net nie tou opgooi nie."
Joseph Dean wys die groot Mansion wat hy gebou het
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'