STILBAAI NUUS - Pikkewyne is nie 'n algemene gesig in Stilbaai en Jongensfontein nie en daarom wil baie mense weet waar die Drie Pikkewyne Restaurant in Jongensfontein se naam vandaan kom.
Volgens Barbara de Jager in haar boek Jongensfontein, van suiping tot sauna het Barrie en Marie Barnard, eienaars van Jongensfontein Handelaars, die latere Drie Pikkewyne, al in 1992 met die versorging van siek en beseerde pikkewyne begin.
Na Barrie se dood op 2 September 1995 het Marie die pleegsorg voortgesit. Juis op 6 September 1995, die middag na Barrie se begrafnis, het sy drie sorgbehoewende pikkewyne ontvang.
Elke pikkewyn het gewoonlik 'n naam gekry terwyl hul in pleegsorg was en hierdie drie was Oupa, Lady en Baby.
Die drie pleegpikkies word met liefde onthou in die naam van die Drie Pikkewyne Restaurant.
Een van bogenoemde drie was 'n geringde pikkewyn wat deur Fanie Joubert by Blombos gevind is. Safring, 'n afdeling van die Universiteit van Kaapstad wat pikkewynnavorsing doen, het hom op Bird Island by Algoabaai gering. Die ringpikkie het binne sewe maande 425 km afgelê.
Van 1992 tot 1996 is 63 pikkewyne versorg, waarvan slegs vyf nie deurgehaal kon word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’