STILBAAI NUUS - Die Stilbaai-gemeenskap was gisteraand in skok nadat Suid-Kaap Forum-joernalis, Johan Victor, laatmiddag as vermis aangemeld en later bewusteloos op die rotse naby Geelkrans aangetref is.
Volgens sy vrou, Laverne Victor, het Johan die huis omstreeks 13:00 verlaat, vermoedelik vir 'n strandstappie, maar het nooit teruggekeer nie.
Nadat haar eie soektog geen sukses opgelewer het nie, het sy die Stilbaai-polisie in kennis gestel.
'n Grootskaalse soektog is deur die SAPD, NSRI, Stilbaai-buurtwag en vrywilligers begin.
Die operasie is egter na ongeveer 'n uur weens gevaarlike weerstoestande afgelas.
Een toegewyde vrywilliger het egter geweier om tou op te gooi en het besluit om die soektog voort te sit.
Hierdie moedige optrede is beloon toe hy Victor later bewusteloos op die rotse by Geelkrans gevind het.
Die oorsaak van die insident is tans onbekend. Victor is per ambulans na Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai geneem, waar hy tans onder mediese toesig aansterk.
Victor se vrou bedank die gemeenskap, vrywilligers en reddingsdienste vir hul hulp met die soektog.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’