HEIDELBERG NUUS - Met die huidige ekonomiese omstandighede, nie net plaaslik nie, maar regoor die land, is dit verblydend dat daar wel individue, asook instansies is wat alles in die stryd werp om veral jongmense met die nodige vaardighede te bemagtig.
Een so 'n instansie is die Oasis-opleidingsentrum, 'n nie-wins-gewende organisasie onder leiding van die uitvoerende direkteur, sr. Tessia August.
Vyf jeugdiges van Heidelberg en Slangrivier het opleiding onder leiding van Susan Saayman, boorling van Heidelberg, ontvang.
Die teoretiese opleiding is oor vier weke in die Diepkloof-jeugsentrum aangebied, wat dan met 'n eksamen op Vrydag 4 Julie afgesluit is.
Dit word met twee maande praktiese opleiding by Huis Zenobia du Toit opgevolg.
Die kursus dek vyf aspekte - tuisversorging, noodhulp vlak 1, demensiesorg, palliatiewe sorg, asook Covid 19 werksplekveiligheid.
Tydens Suid-Kaap Forum se besoek die dag voor die eksamen, het Saayman die studente aan 'n mondelinge aanbieding blootgestel, waartydens elkeen 'n kort voorlegging oor 'n sekere aspek van hul teoretiese opleiding moes aanbied.
Dié aanbieding is dan ook met 'n praktiese aanbieding van 'n pedikuur afgesluit.
Saayman het die studente alle voorspoed vir die eksamen toegewens en hulle aangemoedig om met alle ywer en toewyding hul praktiese opleiding aan te pak.
Volgens Saayman kan die suksesvolle afhandeling van die drie maande kursus verskeie deure vir hulle open.
Vir meer inligting rakende die kursusse skakel Saayman by 079 902 2222 of die sentrum by 076 281 5608 of 071 765 0858.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’