HEIDELBERG NUUS - Jeugdiges wat leeglê en net vir kwaadgeld ronddrentel op soek na moeilikheid, veral onder skoolpligtiges, is 'n euwel wat sy kop hier uitsteek.
Juis daarom is dit verblydend dat daar jongelinge is wat dié euwel in die gemeenskap wil hokslaan. Een só 'n jeugdige is Jayden Gabriels wat hom onlangs in Heidelberg kom vestig het.
Hy beywer hom om die verval onder die jeug te keer en hulle met die nodige kennis en vaardighede te bemagtig.
Een uitvloeisel hiervan is die stigting van 'n Child Rapid Response Unit (CRRU) met 'n groep jongmense, waarvan die meerderheid vroue is, in beheer. Die doel van die eenheid is om kinders en jeugdiges wat so spontaan "vermis" geraak het op te spoor en terselfdertyd die polisie se taak te verlig.
Gabriels dien as koördineerder van die Wes-Kaapse CRRU en hy is ook voorsitter van die Wes-Kaapse Jeug Veiligheidsforum.
Hy sê dat hulle hul op die leerders gaan toespits wat so vroeg al skool verlaat en gereeld van hul klasse afwesig is.
Volgens Gabriels is hulle daarop gefokus om die leerders wat so stokkiesdraai of vroegtydig skool verlaat, die belangrikheid van 'n ordentlike skolastiese opvoeding by hulle tuis te bring. "Ons gaan met skole, die polisie asook die ouers saamwerk om die probleem op te los."
Ander bykomende stappe wat hulle gaan neem is om verskeie besigheidspersele, waaronder huiswinkels, gewone winkels en veral tavernes en taphuise, gereeld te patrolleer. "Indien hulle [jeugdiges] nie gehoor gee nie, sal ons die betrokke ouers nader om die probleem aan te spreek.
"Ek doen 'n beroep om alle gemeenskaps-, kerk- en sportleiers om ons te ondersteun sodat ons weer 'n gesonde gemeenskap op die been kan bring."
Volgens Gabriels het hulle die afgelope naweek met hul eerste opleiding begin en kon hulle 'n jeugdige, wat die hele naweek van haar huis af weg was, opspoor en weer aan haar ouers oorhandig.
Hy doen ook 'n dringende beroep op ondersteuning vanuit die gemeenskap om hulle met toebehore soos flitse, veiligheidsbaadjies, verversings en enige finansiële bystand te help.
Gabriels kan by 076 413 6161 of 060 812 4070 gekontak word.
Raakvatters. Dié groep jongmense, wat as raakvatters hul stempel wil afdruk om 'n verskil in die gemeenskap te maak, is lede van die Child Rapid Response Unit (CRRU) wat in Heidelberg gestig is. Agter, van links is Perswille Moses (kaptein), Denolene Schietekat, Lelieza Michaels, Nadia Amsterdam en Joann Michaels. Voor: Monique September, Veronica Hartnick, Jayden Gabriels (koördineerder) en Peterlin Hoogbaard. Foto's: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'