Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Groep minderjariges het Vrydagaand,15 Maart, blykbaar 'n enkelma se tweevertrekhuis in Joe Slovo Park beskadig deur al die vensters met klippe en stokke stukkend te gooi.
Die plaaslike polisie het Saterdagoggend nege jeugdiges tussen die ouderdomme van 14 en 17 jaar in hegtenis geneem, waaronder drie meisies. Twee van die seuns is na ondervraging vrygelaat.
Die meisies en vier seuns het Maandagoggend op aanklag van saakbeskadiging en ander klagtes in die plaaslike landdroshof verskyn.
Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel. Die meisies is glo in 'n plek van veiligheid in Kaapstad tot hul volgende hofverskyning geplaas. Een van die seuns het Dinsdagoggend weer in die hof op verskeie ander aanklagte verskyn.
Volgens inwoners wat verkies om anoniem te bly, boesem die kwaaddoeners al vir 'n geruime tyd vrees in deur hulle aan te rand en te beroof. Die slagoffer van die nuutste vandalistiese aanval, Bridgitte Miggels (26), vertel dat sy vermoed dat dié aanslag op haar huis uit 'n woordewisseling by haar werk spruit met een van die jeugdiges se niggies. Sy het gedink dat dit vergete is omdat hulle nie by die werk mag skel of baklei nie, maar toe het die kollega se neef haar blykbaar na werk aangerand. Sy het glo 'n saak van aanranding gaan maak.
Miggels, 'n ma van 'n vyfjarige dogter, sê dat die jeugdiges so te sê alles in haar huis vernietig het.
Hulle het ook die geld gevat wat sy in haar beursie gehad het. Haar vriend en 'n vriendin met 'n jaar oue baba was tydens die aanval in die huis.
"Gelukkig was my dogter by my familie toe dit gebeur het, anders sou sy erg getraumatiseer gewees het."
Glasstukke het oral rondgelê.
Al die vensters, asook die deur het onder die kwaaddoeners deurgeloop.
Glasstukke het oral rondgelê.'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'