RIVERSDAL NUUS - Suid-Kaap Forum het die afgelope tyd verskeie klagtes van bekommerde inwoners ontvang oor honde wat sonder leibande in openbare ruimtes rondloop en mense aanval terwyl hulle met hul eie honde gaan stap.
Volgens inwoners is daar ook toenemende frustrasie oor honde-eienaars wat versuim om skoon te maak wanneer hul honde in openbare areas mors.
Hierdie situasie skep nie net ’n gesondheidsrisiko nie, maar lei ook tot spanning tussen inwoners.
Die Hessequa-munisipaliteit het bevestig dat hierdie gedrag in stryd is met bestaande munisipale regulasies en het inwoners herinner aan die Verordening insake Openbare Geriewe (6 September 2019, PK 8144).
Ingevolge Artikel 11(2) moet ’n persoon wat toegelaat word om ’n hond in ’n openbare gerief in te bring, regstreekse en fisiese beheer oor die dier uitoefen deur middel van ’n leiband of ander toepaslike toestel.
Oortreders kan met ’n boete van tot R2 000 beboet word.
Verder bepaal Artikel 11(3) dat enige dier wat in ’n openbare gerief aangetref word sonder regstreekse beheer, deur die munisipaliteit geskut mag word.
Die munisipaliteit beklemtoon dat dit van kardinale belang is dat voorvalle van hierdie aard onmiddellik aangemeld word by die 24-uur beheerkamer by 028 713 2222 of 028 713 7917, sodat wetstoepassers vinnig kan ingryp en moontlike ernstige voorvalle voorkom.
Klaers word aangemoedig om, waar moontlik, hul kontakbesonderhede te verskaf, aangesien dit wetstoepassing in staat stel om klagtes doeltreffend en sonder vertraging te hanteer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’