ALBERTINIA NUUS - Groot ontevredenheid heers steeds onder inwoners van Albertinia oor die gehalte van hul drinkwater, met talle inwoners wat beweer die water is nie veilig vir menslike gebruik nie.
Video's van vuil waterfilters wat glo weekliks skoongemaak moet word, asook foto's van gevlekte wasgoed en klere, is die afgelope week aan Suid-Kaap Forum gestuur as bewys van die probleme waarmee huishoudings daagliks worstel.
Inwoners sê hulle is veral bekommerd oor gesinne wat nie duur waterfiltrasiestelsels kan bekostig om die water verder te suiwer nie.
Volgens hulle raak die probleem nie net hul huishoudelike gebruik van water nie, maar wek dit ook ernstige kommer oor gesondheid en veiligheid.
Kwessie kry momentum
Die kwessie het nou verder momentum gekry nadat die ondervoorsitter van die VF Plus Hessequa-tak, adv. Hendrik van Staden, 'n formele skrywe aan die munisipale bestuurder van Hessequa, Albert de Klerk, gerig het waarin hy groter deursigtigheid oor watergehalte eis.
Volgens Van Staden dui onafhanklike watertoetse, wat onlangs deur die Witsand/Port Beaufort Inwonersvereniging en die Breedezicht-gemeenskap gedoen is, daarop dat sekere watermonsters moontlik nie aan die vereistes van SANS 241:2025 vir drinkbare water voldoen nie.
Hy beklemtoon egter dat sy versoek nie konfronterend bedoel is nie, maar eerder daarop gemik is om samewerking, deursigtigheid en die beskerming van openbare gesondheid te bevorder.
"Ons fokus bly die beste belang en welstand van die gemeenskappe. Ons wil saam met die munisipaliteit werk om volhoubare oplossings te vind," het Van Staden gesê.
In sy skrywe versoek hy dat alle watergehalte-toetsuitslae vir Witsand, Port Beaufort en Albertinia, insluitend historiese data van die afgelope 12 maande, openbaar gemaak word.
Hy vra ook dat die resultate maandeliks op toeganklike platforms gepubliseer word en dat besonderhede oor monster-nemingspunte, toetsmetodes en laboratoriums bekendgemaak word.
Voorlegging opgestel
Van Staden het verder 'n konsepre-solusie vir voorlegging aan die raad opgestel waarin voorgestel word dat 'n gemeenskapsgebaseerde watermoniteringsforum ingestel word.
Die forum sal volgens die voorstel uit gemeenskapsverteenwoordigers, burgerlike organisasies en onafhanklike kundiges bestaan en insae hê in watermonsterneming en toetsprosesse.
Die voorstel bepaal ook dat inwoners onmiddellik in kennis gestel moet word indien water nie aan die vereiste standaarde voldoen nie en dat 'n regstellingsplan binne 'n redelike tyd gepubliseer moet word.
Filters weekliks skoongemaak
Albertinia-inwoner Marko Matthee sê: "Ek moet ons huis se waterfiltersisteem weekliks laat skoonmaak. Dit gaan al maande so aan. Dis absoluut onaanvaarbaar dat ons dorp se inwoners rooi-bruin water moet drink.
"Hierdie water is vuil, vlek ons linne en klere, en stel ons gesondheid in gevaar. Ons betaal vir skoon drinkwater, maar kry water wat niemand met 'n geruste hart kan gebruik nie. Ek het nou al verskeie kere by die munisipaliteit oor die problem gaan kla en al wat ek kry is verskonings en geen oplossings nie." sê hy.
"Ons sukkel ons dood om die hotel se linne skoon te kry en dit kos ons baie geld om ekstra produkte aan te koop om die linne te probeer skoonkry," het 'n ander inwoner beaam.
Volgens Van Staden het inwoners ingevolge artikel 27 van die Grondwet die reg op toegang tot voldoende en veilige water, terwyl die Waterdienste Wet munisipaliteite verplig om drinkwater voortdurend te monitor en deursigtig daaroor verslag te doen.
Munisipaliteit tree op Albertinia Water:
Die munisipaliteit erken die erns van die situasie en die impak wat verkleurde water op inwoners het, asook die bykomende finansiële las wat huishoudings ervaar.
Ons wil u verseker dat die saak dringende aandag geniet.
Die huidige watergehalte-uitdagings word hoofsaaklik toegeskryf aan pypbarsings en versteurings binne die retikulasienetwerk.
'n Beduidende bydraende faktor is die ouderdom van gedeeltes van die bestaande asbessement (AC) pyplynnetwerk.
Met verloop van tyd het yster en mangaan wat in die water voorkom, neergeslaan en opgehoop op die interne oppervlaktes van hierdie pype.
Wanneer die stelsel versteur word, soos tydens pypbarsings, herstelwerk of drukskommelinge - word hierdie neerslae losgemaak, wat lei tot die bruin of modderige voorkoms van die water wat inwoners ervaar.
Die tegniese dienste departement het die volgende maatreëls geïmplementeer:
- Implementering van spoelprogramme in geaffekteerde areas om opgehoopte sedimente te verwyder en watergehalte te verbeter;
- Prioritisering van herstelwerk om die frekwensie van pypfoute en gepaardgaande versteurings te verminder;
- Verhoogde monitering van die waterdistribusiestelsel;
Tydens die 2025/2026 finansiële jaar se aanpassingsbegroting het die munisipaliteit ongeveer R4 miljoen toegeken vir die aanstelling van 'n kontrakteur om verouderde asbessement-pyplyne binne die waterdistribusienetwerk te vervang.
Hierdie inisiatief is daar gestel vir verbetering van die algehele betroubaarheid en kwaliteit van die water.
Die munisipaliteit bly daartoe verbind om veilige en betroubare waterdienste aan alle inwoners te lewer en te verseker dat infrastruktuur-opgraderings en instandhouding 'n sleutelprioriteit bly.
Ons waardeer opreg u geduld en begrip terwyl regstellende maatreëls geïmplementeer word.
Inwoners word aangemoedig om spesifieke voorvalle by die plaaslike munisipale kantoor in Albertinia by 028 713 7858 of per e-pos by [email protected] aan te meld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’