HEIDELBERG NUUS - Ongeveer 50 ontevrede inwoners van Heidelberg, Slangrivier en omliggende plase het Maandagoggend, 25 Mei, voor die plaaslike polisiestasie betoog waar ernstige aantygings van korrupsie, bedrog en swak dienslewering teen die polisie en die departement van justisie gemaak is.
Die betoging het onder streng toesig plaasgevind, met lede van die plaaslike polisie, munisipale beskermingsdienste en openbare-orde-polisiëring (Pops) wat die situasie gemonitor het.
Tydens die verrigtinge het inwoners hul misnoeë uitgespreek oor die optrede van sekere polisielede en personeel by die plaaslike landdroshof.
Verskeie klagtes oor beweerde onbehoorlike optrede, asook die toestaan van borgtog aan verdagtes in ernstige misdade, is geopper.
Marius de Beer, 'n voormalige reservis, het met 'n plakkaat betoog en beweer dat hy op 14 Oktober 2023 ontvoer is en later deur plaaslike polisielede "geframe" is.
Hy het ook aangevoer dat hy valslik van die onsedelike aanranding van 'n minderjarige seun beskuldig is.
Daar is ook bewerings dat die plaaslike landdros asook sekere kantoorpersoneel hulle skuldig maak aan vele oortredings wat as bedrog en korrupsie interpreteer kan word.
Daar is ook baie klem gelê op die feit dat vele misdadigers op ernstige misdade te maklik borgtog toegestaan word.
Na die sowat twee uur lange betoging het Magdalena van der Westhuizen 'n petisie aan kapt. Bartho Joubert, waarnemende stasiekommissaris, en Donavan Weber van die plaaslike landdroshof oorhandig.
Van die inwoners se griewe sluit in:
- Dat die satellietpolisiestasie op Slangrivier herbeman word
- Meer sigbare polisiëring
- Groter oorweging van openbare veiligheid tydens borgtogaansoeke in ernstige geweldsmisdade
- Beter samewerking tussen die polisie en die gemeenskap.
Tydperk vir terugvoering te kort
Beide die verteenwoordigers van die departemente het aan Van der Westhuizen en die ander ontevredenes verduidelik dat die tydperk vir terugvoering te kort is aangesien die griewe aan verskeie departementshoofde gerig sal word.
Daar is ook ooreengekom dat daar meer inligting, soos masnommers en so meer, rondom die vele bewerings verskaf moet word om sodoende 'n behoorlike ondersoek teen die bewerings te doen.
Polisie dra kennis van klagtes
Volgens ao. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, neem die Heidelbergse polisie-bestuur kennis van die klagtes.
Hy het gesê verdere inligting, insluitend saaknommers, sal benodig word voordat ondersoeke ingestel kan word.
Spies het beklemtoon dat die plaaslike gemeenskaps-polisiëringsforum steeds funksioneer en 'n belangrike rol speel om verhoudings tussen die polisie en gemeenskap te versterk.
"Verder werk verskeie veiligheidstrukture ter ondersteuning van die polisie om gemeenskappe te beskerm.
"Verhoudings is belangrik en die polisie bly daartoe verbind om met die gemeenskap saam te werk om te verseker dat die publiek veilig is en voel."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’