SLANGRIVIER NUUS - Inwoners van Bo-kraal in Slangrivier, het Saterdagaand, 13 Desember, tydens ’n bedekte operasie die polisie met klippe bestook en etlike duisende rande se skade aan drie polisievoertuie aangerig.
’n Senior plaaslike lid is ook met ’n klip getref en moes steke in sy gesig ontvang.
Volgens kapt. Mervyn Zana, waarnemende stasiekommissaris, is hy baie ontevrede omdat die inwoners wat so kla oor polisiesigbaarheid, dan so lelik teenoor die polisie reageer wanneer hulle wel teen vermeende onwettige aktiwiteite optree.
Tydens die operasie op ’n woning in die Bo-kraal, is ’n 20-jarige jongman in hegtenis geneem nadat ’n lokvink drank gaan koop het en die jongman so vasgetrek is.
Zana noem verder dat dit kommerwekkend is dat almal kla oor swak dienslewering, maar as daar daadwerklik opgetree word teen oortreders, dan word die polisielede uitgeskel en verhinder om hul wetlike pligte uit te voer.
Zana waarsku verder dat daar teen die persone opgetree gaan word wat hulle aan die soort gedrag skuldig gemaak het.
Inwoners word nietemin aangemoedig om enige onwettige aktiwiteite spoedig moontlik aan te meld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’