RIVERSDAL NUUS - Die gehalte van die Inheems-kunsprojek was vanjaar verrassend puik. Daarom het die hoofborg - die Gourtiz-groepsbiosfeerreservaat (GCBR) - besluit om meer van die Hessequa-streek se talentvolle tieners vir hul talent te erken, te beloon en aan te moedig om nóg kuns te skep en die natuur te help bewaar.
Die prysgeld van R20 000 is na R26 500 verhoog.
Dié projek vier ons wonderlike natuur- en kulturele erfenis deur kuns - soos geskilder deur die streek se jeug.
Daar was oor die 130 inskrywings wat deur 'n bekwame beoordelaarspaneel gemeet is aan tegniese vaardigheid, kunsbemeestering, kreatiewe uitbundigheid, suiwer emosionele uitdrukking, storievertelvernuf, botaniese akkuraatheid - en rou, talentvolle pontensiaal.
In die ses afdelings het die deelnemers onderskeidelik R1000 (eerste), R700 (tweede) en R500 (derde) gewen.
Die elf meriete-pryswenners kry elk R300 vir hul geesdrifvernuf.
Bailey Lotterie (18), ‘n tuisonderrig-leerder van Stilbaai, is die algehele wenner met haar kunswerk “Princess”, wat vandeesweek op Suid-Kaap Forum se voorblad pryk. Sy het in twee afdelings presteer: die tegniese kunstenaar (eerste) en die kreatiewe denker (derde). Sy is met altesaam R6 500 beloon. Sy is ook een van die twee ontwerpers van die jaar.
Rayn Kluyts (19) van Heidelberg, ‘n leerder aan Hoërskool CJ Langenhoven in Riversdal, deel die ontwerperprys met haar kunswerk “The Cicada." Dié werk het ook die tweede plek in die kreatiwiteit-afdeling behaal (waarin Bailey derde was en deur Rivkah van der Merwe (19), ‘n tuisonderrigleerder van Riversdal gewen is).
Bailey en Rayn se kunswerke sal binnekort op die GCBR se ontwerperdrag by onder meer die kunstenaar en illustreerder Nicole Hein se ekovriendelike kunsvlyt- en spysateljee The Wildflower en by die kunstenaar Janet Muller se Geel Mossie-galery in Riversdal beskikbaar wees.
Nog twee talentvolle 15-jarige tuisonderrig-leerders van Stilbaai het met verskillende werke in twee afdelings uitgeblink: Amelie Lotterie - derde met haar werk “Rhino” in die tegniese kunstenaar-afdeling en tweede met haar werk “African Fish Eagle” in die afdeling vir rou, opkomende talent.
Monica Ferrrer het twee tweede plekke behaal met haar digitale illustrasie “Little People” in die afdeling die storieverteller en met haar potloodskets “Life in Death” in die ekspressionis-afdeling vir suiwer, emosionele uitdrukking.
Die afdelingwenners is:
Die kunstenaar: tegniese vaardigheidbemeestering - Bailey Lotterie
Die ontwerper: Rayn Kluyts
Die opkomende ster met rou, talentvolle potensiaal - Tristen Strydom
Die kreatiewe skepper - Rivkah van der Merwe
Die botaniese illustreerder - Hilé du Plessis
Die storieverteller - Yuané Adams
Die ekspressionis: suiwer, emosionele uitdrukking - Georgina Thornley
* Die volledige uitslae volg in Suid-Kaap Forum van 30 Aug.