HEIDELBERG NUUS - Een van dié dorp se mees bekendste en immergroen inwoners, Helene Hendricks, oftewel Ant Kandas soos sy alombekend is, het Maandag 2 Februarie haar 81ste verjaarsdag gevier.
Die besondere mylpaal het sy saam met twee van haar oorblywende vyf kinders, haar een skoonseun en skoondogter, asook een kleindogter en een agterkleinkind, gevier.
Ant Kandas, 'n ma van twee dogters en vier seuns, waarvan die oudste oorlede is, is ook ouma van 16 kleinkinders en oumagrootjie van 15 agterkleinkinders.
Haar eggenoot van 56 jaar, Samuel, het haar vyf jaar gelede ontval.
Die ystervrou, wat in 2015 kans gesien het om haar kennis te verbreed, was op daardie stadium die streek se oudste leerder by die Hessequa CLC (ABET) Heidelberg-sentrum, waar sy haar matrieksertifikaat wou verwerf.
Sy het haar in 2005 by ABET geregistreer waartydens sy haar ook beywer het om haar kode 14-leerlinglisensie te verwerf.
Dit het ongelukkig verval aangesien sy nie die nodige finansiering kon bekom om dié droom te verwesenlik nie.
Sy wou so graag nog meer formele rylesse doen, maar dit was nie vir haar beskore nie.
Benewens haar bedrywighede by die sentrum was sy ook baie betrokke by haar kerk en ander gemeenskapsprojekte, waaronder drama/toneelspel ook haar groot liefde was.
Ant Kandas was ook 'n bekende stem op Eden FM, waar sy gereeld ingebel en mense bemoedig het met haar ywer en passie vir die lewe, is nou heelwat stiller as in die verlede.
Sy mag stiller as voorheen wees, maar haar eetlus vir lekkernye en smullekker kosse, is nog uit die boonste rakke.
Sy is ook 'n baie gelowige vrou wat 'n getroue en lojale lid van die plaaslike AGS kerk is.
Sy geniet nog redelike goeie gesondheid, met die uitsondering van haar bene wat maak dat sy nie meer so beweeglik is nie.
Sy geniet wel uitnodigings vir uitstappies veral besoeke na familie en vriende buite die dorp.
Nodeloos om te noem, sy was en is nog steeds een van die plaaslike rugbyklub, Heibi, asook die Young Royal Shepherds Kersfeeskoor se grootste ondersteuners.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’