Gallery Update
RIVERSDAL NUUS - Hier het dit op Dinsdag 5 September omtrent gegons oor die fietsry-trio, Neels Terblanche, Vussi Marenene en Pieter Marais, wat op 'n uitdagingsreis met slegs hul fietse, vanaf Mosselbaai tot in Hermanus onderweg is.
Die roete het Maandag 4 September vanaf Mosselbaai afgeskop met 'n paar hindernisse op pad na Riversdal waar hulle oornag het met komplimente van De Doornkraal Vinotel.
Die volgende oggend het hulle weer vroeg die pad vanaf Riversdal aangedurf na Swellendam, Bredasdorp en Stanford, waar hulle uiteindelik in Hermanus sal eindig.
Idee beplan vir 2024
Volgens Neels is die oorsprong van hierdie uitdaging om gereed te wees vir 'n ekspedisie wat hy beplan vir Desember 2024. Die idee is om 28 000 km om Afrika te reis aan boord van die spesiaal ontwerpte trapboot, Vaquita 2 met sorgvuldige beplanning en noukeurige voorbereiding.
Hy beplan om vanaf Mosselbaai te vertrek na sy eerste bestemming, die kusdorpie Hermanus en verder om Afrika.
Ter voorbereiding vir hierdie uitdagende ekspedisie, het Neels en Vussi besluit om 'n fietsryroete te onderneem van sowat 20 000 kilometer op land saam met hul grootste ondersteuner, Pieter.
Neels en Pieter met hul bergfietse en Vussi met sy handfiets wat sy ontembare gees ten spyte van sy fisiese beperkings ten toon stel. Gedurende hierdie voorbereidingsreis beoog hulle om hul fietsryvernuf te verfyn.
Passie vir fietsry
Voor sy ongeluk was Vussi Marenene 'n hoogs mededingende atleet wat uitgeblink het in fietsry, landloop en swem. As bewys van sy toewyding was hy die enigste polisiebeampte in die land wat die hoogs mededingende Fittest Police-kompetisie by vier geleenthede gewen het.
Hierdie jaarlikse geleentheid dien as 'n toets van die beste individuele polisiebeamptes in die land wat fiksheid betref.
Vussi se lewe het 'n onverwagte wending geneem toe hy weens 'n fratsongeluk in Februarie 2022 'n kwadrupleeg geword het. Sy passie vir fietsry was nog altyd 'n integrale deel van sy lewe en dit bly 'n onwrikbare passie ten spyte van die uitdagings wat hy in die gesig staar.
Onafhanklikheid is vir hom van kardinale belang, alhoewel hy bystand benodig, veral finansiële ondersteuning om die nodige toerusting wat hom in staat sal stel om weer onafhanklik te raak.
Met sterk ondersteuning is Vussi oortuig dat hy sy doelwit om 'n kwadrupleegfietsryer op internasionale vlak te word sal bereik.
FOTOGALERY: Fietsry-trio ry deur Riversdal
Vol geestrif spring die trio weg na hul volgende bestemming.
Bewusmaking skep
Buiten Neels se ekspedisie en fietsryroetine, wil hy hierdeur ook bewusmaking skep oor wanvoeding onder klein kindertjies regoor die wêreld. Volgens hom is swak voeding verantwoordelik vir baie sterftes in kinders onder die ouderdom van vyf as gevolg van wanvoeding.
'n Effektiewe oplossing hiervoor kom in die vorm van PhytoBlend-poeier, wat ontwerp is om die voedingswaarde van kinderkos te verbeter. Die poeier kan in alledaagse maaltye gevoeg word, wat die kinders se noodsaaklike voedingsaanvulling verbeter.
Deur noukeurige voorbereiding en onwrikbare vasberadenheid, wil Neels en Vussi ander inspireer en 'n onuitwisbare merk los op almal wat hul ekspedisie volg.
Donasie
Indien jy 'n donasie wil gee vir wanvoeding onder kinders of Neels wil help met sy ekspedisies of om Vussi te help om sy doelwit te bereik as internasionale kwadupleegfietsryer, besoek gerus hul webtuiste by www.sea-battical.co.za
Agter, van links is Thinus van den Berg (Hessequa-onderburgemeester), Neels Terblanche (projekbestuurder) en Pieter Marais (spanondersteuner). Voor: Vusi Marenene (kwadrupleeg-fietsryer) en André Koen (Riversdal kwadrupleeg-fietsryer).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’