STILBAAI NUUS - Huis Stilbaai het Donderdag 19 Februarie afskeid geneem van beheerraadslede wie se termyn tot 'n einde gekom het, onder andere drie lede met die meeste jare diens.
Hulle groet met 'n gesamentlike 83 jaar diens. 'n Heerlike koek-en-tee by Oh My Gluten-Free op 18 Februarie by die toerismeburo het ontaard in 'n lekker onthousessie.
Sannie Volschenk (38 jaar), Hentie van Heerden (34 jaar) en Alet Reynders (11 jaar) het oor die jare diens van uitstaande gehalte gelewer en hulle sal nie voortgaan met hul rol wanneer die nuwe beheerraad in Februarie genomineer word nie.
Sannie en Hentie was beide maatskaplike werkers en Alet was 'n teatersuster voor aftrede. Hentie was onder andere hoofraadgewende beampte van die gesinsadvokaat van Suid-Afrika.
Dit was dus logies dat hulle by Huis Stilbaai se beheerraad betrokke sou raak.
Hulle sê dat hulle die taak aangepak het om 'n verskil in mense se lewens te maak, nie net by Huis Stilbaai nie, maar ook in die gemeenskap.
Huis Stilbaai het sy deure in 1987 geopen as gevolg van die groeiende behoefte vir 'n ouetehuis in Stilbaai.
Aanvanklik was daar net huur-woonstelle en versorgingskamers, maar later het leefregwoonstelle bygekom om dit die sieraad te maak wat dit vandag is.
Daar is baie staaltjies, maar hulle lag as hulle sê dat Huis Stilbaai in die beginjare baie groente vanuit die boerderygemeenskap ontvang het en dan was dit die inwoners se taak om die groente te skil sodat dit gaargemaak kon word.
Hulle is dit eens dat dit 'n hoogte-punt was toe die primusstowe uitgefaseer is!
'n Laagtepunt was Covid-19, vanuit 'n menslike- sowel as finansiële oogpunt.
Inwoners kon nie familie ontvang nie en hulle kon dit nie altyd verstaan nie.
Huis Stilbaai het ook 'n personeel-lid en twee inwoners as gevolg van Covid-19 aan die dood afgestaan.
Karlien Saayman, bestuurder van Huis Stilbaai, sê dat sy met die uitbreek van Covid-19 twee maande bestuurder was en dit was vir haar 'n behoorlike vuurdoop.
Daar was geweldige onkostes waarvoor nie begroot is nie en hulle kon ook nie nuwe inwoners opneem nie.
Die drie formidabele vroue kan tevrede terugkyk op wat hulle vermag het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’