Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Die huis wat al vir baie lank 'n kopseer vir inwoners van Robertsweg in Heidelberg is, het vir die derde keer binne enkele maande weer begin brand.
Die eerste keer was die nag van 14/15 November, daarna op 23 November en nou weer op Vrydag, 4 Februarie.
Suid-Kaap Forum het voorheen oor dié huis berig waar die bewoner sy erf vir herwinningsdoeleindes gebruik. By 'n vorige navraag na die tweede brand het Hessequa-munisipaliteit gesê dat die wetstoepassing-afdeling al by twee geleenthede by die betrokke woning was na klagtes van oorlastoestand op die perseel ontvang is.
Kennisgewings was blykbaar op die eienaar van die woning beteken, wat duidelik geen impak gemaak het nie omdat die erf se toestand erger as ooit lyk.
Volgens die bure bewoon die eienaar nie meer die huis nie en word dit deur glo deur ongure karakters vir misdadige elemente misbruik.
Die munisipaliteit se brandweer was op die toneel, maar kon nie veel van die inhoud red nie. Die brand het volgens bure net voor 07:00 ontstaan.
In kommentaar deur Hessequa-munisipaliteit het Didi Budricks, hoof van openbare betrekkinge, administrasie en hulpbronne gesê dat die bewoner, ene mnr Benn die woning verlaat het na die vorige brand en dat die eienaar se dogter dit nou bewoon.
"Die familielid poog tans om die perseel skoon te maak en op te ruim, maar het aangedui dat sy munisipale hulp in die verband benodig, en word die formele versoek van haar afgewag."
Video: Huis op Heidelberg brand... alweer
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'