RIVERSDAL NUUS - Wie gaan die kinders kos gee?
Dit was die grootste bekommernis sedert die algehele inperking om middernag op 26 Maart in werking getree het.
Die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) is besig om die moontlikheid om kos vir leerders te verskaf te ondersoek.
Volgens die departement is daar agt hoërskole, 12 laerskole, agt multigraadskole en drie privaat skole in die streek. Altesaam 21 van hierdie skole is op die nasionale voedingsprogram en ten minste 6 062 leerders kry daagliks kos by die skool.
Hoeveel kleuters onder normale omstandighede daagliks kos kry, is egter 'n raaisel. Kleuterskole wat nie by die WKOD geregistreer is nie, maar deur die ACVV bestuur word, word deur die Oudtshoorn-bronnesentrum kos gegee. Die sentrum kon nie bereik word om getalle te kry nie.
Dit is ook nie seker hoeveel kinders jonger as vyf, wat deur die departement maatskaplike ontwikkeling se vroeë-kinderontwikkelingsprogram bestuur word, daagliks kos by bewaarskole en dagmoeders ontvang nie.
Kindersorg SA se Riversdal-tak, wat daagliks 68 volwassenes van 'n bord gekookte kos voorsien, se kantoor is ook oop. "Ten einde te verhoed dat die mense rondbeweeg, het ons met die voorrade tot ons beskikking vir hulle kospakkies opgemaak wat hulle vir 'n rukkie aan die gang kan hou," het die kantoor gesê. Van die gesinne het kinders, wat sodoende darem ook iets te ete sal kry. "Van die mense het staatstoelae ontvang waarmee hulle kos kan koop."
Volgens dié kantoor ontvang hulle skenkings van vars groente en vrugte van boere in die omgewing.
"Die land gaan binne die volgende paar weke te doen kry met baie gemeenskappe wat nie weet waar hul volgende bord kos vandaan kom nie," het Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap gesê.
"As een van die belangrikste rolspelers in die Wes-Kaap, aanvaar die landbousektor sy kritiese rol in die welstand van die provinsie en al sy inwoners. Die skenking van vars produkte is ons bydrae om ons gemeenskappe in hierdie baie moeilike tyd by te staan en om 'n verskil in mense se lewens te maak."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'