ALBERTINIA NUUS - “Met geloof, hoop en liefde, wedersydse respek tussen opvoeder en leerder, die toepassing van ‘n stelsel menslike reëls rondom verwagtings, gedrag en optrede, kán dissipline in ‘n skool gehandhaaf word en sáám kan ons na die kruin toe beur,” meen Dennis Karelse, die skoolhoof van Hoërskool Albertinia.
Dié skool spog saam met drie van die ander ses hoërskole in die Hessequa-streek met ‘n 100%-slaagsyfer in verlede jaar Nasionale Seniorsertifkaat (NNS-eksamen).
Al 36 leerders van dié skool wat verlede jaar matriek geskryf het, het geslaag. Vier leerders het gesamentlik vyf onderskeidings verwerf en 26 (72,2%) het universiteitsvrystelling gekry.
Die toppresteerders is Leigh-Hende Eksteen, Jomelia Taute en Enzayrin Hermanus.
"Die 2023-matrikulante is die ergste deur die beperkinge van die Covid 19-pandemie benadeel en amper onuitwisbare agterstande tot gevolg gehad het. Ons het egter uitvoerbare planne beraam en met verpligte aanvullende onderrig na-ure die verlore onderrigtyd aangespreek. Ons het op ons knieë gebly, vasgebyt en aanhou werk. Die seën daarop is die stempel van ons uitslae.”
Vanjaar het dié skool 626 leerders (gemiddeld 35 per klas), waarvan 53 vir graad twaalf geregistreer en toegelaat is. Hulle sal deur ‘n personeelkorps van 25 (waarvan 20 opvoeders is) ondersteun word.
“Ons benut die beskikbare hulpbronne, hoewel dit nie heeltemal voldoende is nie. Vir party grade is daar bloot té min opvoeders vir té veel leerders. Maar ons maak die nodige aanpassings, ter wille van die opheffing van ons leerders. Ons streef na welslae, tevredenheid en, bowenal: dankbaarheid!”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’