RIVERSDAL NUUS - Die gewag is verby: Riversdal se nuwe Shoprite open amptelik op Donderdag 2 Oktober om 08:00.
Die opening bring groot opgewonden-heid onder inwoners wat uitsien na nog 'n inkopiegeleentheid in die dorp.
Kompeterende pryse en 'n wye verskeidenheid was die twee dinge wat verbruikers die meeste uitgelig het tydens gesprekke met Suid-Kaap Forum.
Volgens winkelbestuurder Lawrence Mostert, wil hy nog nie te veel verklap nie.
"Ons hou die verrassings vir Donderdag se opening. Klante sal self moet kom kyk," sê hy.
Elizna Lotz, voorsitter van die Riversdal-sakekamer, glo die nuwe ontwikkeling bied groot voordele:
"Die opening bring gesonde kompetisie mee, wat laer pryse en meer keuses vir huishoudings beteken.
Ekonomies gesien is dit positief vir werkskepping en kan dit selfs verbruikers na ander plaaslike besighede lok."
Die Hessequa-munisipaliteit het in 'n verklaring die opening as 'n sleutelontwikkeling vir die dorp beskryf.
Volgens die munisipaliteit sal Shoprite 'n bekostigbare alternatief vir inwoners bied, werk skep, die sosio-ekonomiese groei van Riversdal bevorder en nuwe belegging in die sentrale sakekern aanmoedig.
Verder word bestaande infrastruktuur in die middedorp herontwikkel om die winkel te huisves, wat die historiese karakter van die sentrum bewaar terwyl moderne fasiliteite geïntegreer word.
Toeganklikheid vir voetgangers en motoriste word verbeter, en die opgra-dering van sypaadjies en parkeerareas dra tot groter veiligheid en mobiliteit by.
Die munisipaliteit het dit opgesom: "Die nuwe Shoprite is 'n positiewe hupstoot vir Riversdal se ekonomie en versterk die dorp se rol as administratiewe en kommersiële sentrum."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’