RIVERSDAL NUUS - Toe Riversdal op 6 Junie 1849 munisipale status gekry het is water deur twee moddervore aan die dorp voorsien.
Die eerste waterfiskaal, JD Ungerer is op 25 Julie 1849 teen R30 per jaar aangestel.
Op 15 Junie 1851 is hy deur JP Janse van Rensburg teen R50 per jaar vervang. Die taak van die waterfiskaal was om te sorg dat vore in stand gehou en leiwater regmatig verdeel word. Na klagtes oor vuil water en verwaarloosde vore geopper is, is Janse van Rensburg deur PJ du Preez vervang.
Tydens 'n munisipale vergadering op 31 Augustus 1853 waar al die persone wat wettige regte op water uit die Vetrivier gehad het teenwoordig was, is planne vir beter watervoorsiening beraam. Met inagneming van die regte van drie meulens en boere aan die oostekant van die rivier is besluit om 'n standhoudende dam in die rivier te bou. Niks het egter hiervan gekom nie. Op 4 Februarie 1859 het sommige van die betrokkenes ingestem dat pype om water na die dorp te bring oor hul eiendomme gelê kon word.
Op 28 Desember 1861 het landdros James Rose-Innes vermeld dat die watervore uiters onhigiënies is. Tydens 'n vergadering op 4 Maart 1883 is op voorstel van JF Barry besluit dat 'n redelike beslissing vir die waterregtekwessie gevind moet word, maar selfs na die aanstelling van 'n komitee kon geen konsensus bereik word nie.
Intussen het die munisipaliteit in medewerking met die landdros 'n plek vir die bou van 'n reservoir aangewys. Na goedkeuring van die goewerneur ontvang is, is uitgrawings vir die tenk (67 m x 39,6 m x 3 m) teen die helling van 'n heuwel aan die suidekant van die dorp gedoen. Die dam sou vir voltydse huishoudelike gebruik voordelig wees. Weereens was daar onenigheid. Weens die droogte aan die begin van 1878 het geen water die onderpunt van die dorp bereik nie en alle leibeurte is opgeskort.
J Steyn was ook ’n lid van die eerste raad.
• Alle inligting uit die Julius Gordon Africana Sentrum/Versfeld-Huis
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'