RIVERSDAL NUUS - Die dorp Riversdale is meer as 180 jaar gelede gestig.
Ek skryf aspris 'Riversdale', want dit is die naam wat aan hierdie dorp gegee is toe dit gestig is.
Hoekom? Die eerste plase, onder meer Plattekloof (ook genoem 'Over de Duivenhoksrivier aan de Plattekloof') met die eerste weiregte is in Julie 1727 aan Jurgen Potgieter uitgereik. In 1740 word Johann Andries Holtzhausen die eerste permanente inwoner van die plaas.
Die plaas Zeekoegat wat sedert 1746 die leningplaas van Jan Loos/Loots was, is in 1749 deur Antonie Michael Muller gekoop. Sy seun Hillegert wat op 9 Maart 1747 gebore is, het na hom die eienaar geword. Hillegert was 'n gerespekteerde inwoner wat onder meer in 1782 saam met 'n kommando die 'Grosvenor' wat aan die Pondolandse kus gesink het, se skipbreukelinge probeer opspoor het.
Daar was 'n groepie kerkmense wat Godsdienst Gesticht genoem is. Hulle wou 'n dorp stig en koop toe 'n stuk van die groot plaas Doornkraal, wat in daardie stadium aan Hermanus Steyn behoort het. Die Siviele Kommissaris/magistraat se hoofsetel was op Swellendam. Kol. Harry Rivers is daar aangestel en hy moes natuurlik daarheen reis indien sy dienste benodig sou word. Die inwoners het só baie van hom gehou dat hy gevra is of die dorp na hom vernoem kon word. Hy het heelhartig ingestem, maar toe hul Riversville voorstel, vra hy of dit nie liewers Riversdale kan wees nie. Dit was dalk na aanleiding van sy van 'Rivers', en omdat die dorp in 'n 'dale' (dal) lê.
Op 30 Augustus 1838, wat amptelik in die Government Gazette as 31 Augustus opgeteken is (dieselfde jaar as die Groot Trek), is Riversdale as dorp gestig. So hoekom gebruik baie 'Riversdal' as die naam van ons dorp? Miskien was die inwoners meerendeels Afrikaans-/Hollandssprekende mense en het die 'e' weggeval wanneer oor die dorp gepraat of geskryf is.
Die eerste gebou wat as 'n kerk gebruik is, was 'n lang rietdakgebou wat langs die Royal Hotel gestaan het. Dit was in latere jare ook die Standard Bank, maar het later afgebrand. Ds. HA Moorrees was die eerste leraar met mnr. Joseph Puren as die eerste koster.
Die hoeksteen van die eerste amptelike kerkgebou is op 13 Januarie 1844 gelê waar die huidige NG Kerk staan, met ds. PB Borcherds as leraar. Die kerk is in 1845 ingewy. In 1907 is besluit die gebou is te klein en dis gesloop. Die nuwe (huidige) kerk is opgerig en kontant betaal uit skenkings. Die NG Kerk Moedergemeente is op 13 Februarie 1909 ingewy.
Die leraar was ds. JC Hugo wat 20 jaar hier gedien het.
Die Zeekoegat-opstal voor restourasie.
Die historiese plaas Plattekloof wat teen die Langeberge lê.
Godsdienstige Gesticht se gebou, later polisie- en landdroskantoor en nog later Standard Bank.
Die ou NG Kerk wat in 1845 ingewy is en in 1907 gesloop is.
Inligting uit die Julius Gordon Africana Sentrum/Versfeld-Huis
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'