Update
RIVERSDAL NUUS - Hessequa-munisipaliteit het verlede Donderdag 17 gegradueerde vredesbeamptes in sy midde verwelkom.
Tydens 'n gradeplegtigheid in die Riversdal-burgersentrum is sertifikate aan die suksesvolle kandidate oorhandig.
Die geleentheid is bygewoon deur die Wes-Kaapse premier Alan Winde, minister vir gemeenskapsveiligheid, Reagan Allen, Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van Hessequa-munisipaliteit, verskeie ander hoogwaardigheidsbekleërs en trotse ouers en familielede van die vredesbeamptes.
Die groep van 17 is tot dusver die grootste groep vredesbeamptes wat in Hessequa en die Tuinroete aangestel is.
In 'n oop aansoekproses het altesame 76 jongmense aansoek gedoen vir die kursus.
Uiteindelik het 30 die strawwe toetsing afgelê waarvan slegs 19 deurgekom het. Sewentien het toe die kursus, wat op 4 April begin en sewe weke geduur het, suksesvol voltooi.
Hierdie inisiatief vorm deel van die huidige administrasie se visie om meer voete op die grond te plaas om sigbare polisiëring te verbeter en veilige gemeenskappe te skep.
Die Wes-Kaapse premier Alan Winde was die geleentheidspreker tydens die gradeplegtighied van die nuwe vredesbeamptes.
Premier Winde het die groep vredes-beamptes gelukgewens met hul besluit om die kursus aan te pak.
"Dit was die eerste stap wat julle geneem het op pad na 'n nuwe toekoms wat vir julle wink. Julle kon net sowel besluit het om nie aan julle toekoms te dink en iets daaromtrent te doen nie.
"Baie geluk ook vir jul harde werk, veral in spanverband. Dankie dat julle vasgebyt en deurgedruk het om 'n sukses hiervan te maak.
"Nou is julle gegradueer en slaggereed om in die Wes-Kaapse veiligheidsisteme diens te doen. Dankie ook aan jul ouers en familie wat julle tydens die kursus ondersteun en bygestaan het.
"Onthou net: julle toekoms begin nou!"
Die 17 nuwe vredesbeamptes verlede Donderdag in die Riversdal-burgersentrum net nadat hulle hul sertifikate ontvang het. Foto: Hugo Redelinghuys
Die 17 nuwe vredesbeamptes verlede Donderdag in die Riversdal-burgersentrum net nadat hulle hul sertifikate ontvang het. Foto's: Hugo Redelinghuys
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’