HESSEQUA NUUS - Hessequa-munisipaliteit het verlede week sy nuwe Collab Citizen-toepassing amptelik bekendgestel, ’n moderne digitale platform wat daarop gemik is om kommunikasie tussen inwoners en die munisipaliteit te verbeter en dienslewering meer doeltreffend te maak.
Die maklik-om-te-gebruik toepassing bied inwoners ’n direkte en gerieflike manier om diensversoeke aan te meld en belangrike munisipale inligting te ontvang - alles vanaf hul slimfone.
Volgens die munisipaliteit is die doel van die toepassing om inwoners in staat te stel om probleme aan te meld sonder om ’n munisipale kantoor te besoek of telefonies kontak te maak.
Met die toepassing kan inwoners byvoorbeeld ’n foto van ’n probleem neem, ’n kort beskrywing byvoeg en die presiese ligging met behulp van GPS aandui.
Die versoek word dan direk na Hessequa-munisipaliteit se kliëntediensafdeling gestuur, waarna dit na die toepaslike departement verwys word vir verdere hantering.
Nog ’n belangrike kenmerk is dat gebruikers die vordering van hul versoeke kan volg.
Statusopdaterings soos “toegewys”, “geskeduleer” en “voltooi” stel inwoners in staat om te sien hoe hul versoek hanteer word.
Die munisipaliteit het inwoners aangemoedig om die Collab Citizen-toep van die Google Play Store, Apple App Store of Huawei App Gallery af te laai en dit te gebruik om diensversoeke aan te meld en op te volg.
Registrasie op die toepassing is vinnig en gebruikersvriendelik, met ’n eenvoudige stap-vir-stap gids.

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’