HESSEQUA NUUS - Hessequa-munisipaliteit moes teen Dinsdag 30 Junie 'n regstellende aksieplan indien nadat nege van sy 10 rioolwatersuiweringswerke in die Groen Druppel-verslag van 2025 as hoërisiko- of kritieke stelsels geklassifiseer is. Die verslag is vroeër vanjaar gepubliseer.
Hessequa-munisipaliteit het gesê hy het teen 30 Junie 'n regstellende aksieplan ingedien. Die munisipaliteit het Vrydagmiddag, 3 Julie, 'n volledige reaksie op Suid-Kaap Forum se navraag gestuur. Die munisipaliteit se volledige verklaring kan onder hierdie artikel gelees word.
Volgens die munisipaliteit het hulle die sperdatum, ná 'n vergadering met die departement van water en sanitasie, nagekom en sal hulle op 'n later stadium 'n meer volledige verslag verskaf. Die inligting sal gepubliseer word sodra dit ontvang word.
Die betrokke rioolsuiweringsaanlegte is in Riversdal, Stilbaai, Garcia, Gourits-mond, Heidelberg, Jongensfontein, Melkhoutfontein, Slangrivier en Witsand geleë.
In die verslag sê die direkteur-generaal van water en sanitasie, dr. Sean Douglas Phillips, dat die departement as regulatoriese liggaam "diep bekommerd bly dat beduidende volumes afvalwater nie konsekwent hul beoogde behandelingsaanlegte bereik nie." Dit lei tot oorlope, omgewingsbesoedeling en direkte openbare gesondheidsrisiko's, het hy gesê.
Die bord buite die Riversdal-afvalwatersuiweringsaanleg. Foto: Chelsea Pieterse
"Swak afvalwaterbestuur hou ernstige ekonomiese gevolge in, insluitende hoër gesondheidsorg- en infrastruktuurkoste, skade aan sektore soos landbou, visserye en toerisme, verminderde beleggersvertroue en uiteindelik 'n beperking op nasionale groei en ontwikkeling."
Die Groen Druppel-verslag van 2025 evalueer afvalwaterbehandelingstelsels regoor die land, met afsonderlike verslae wat vir elke provinsie gepubliseer word.
Die verslag het bevind dat Hessequa se Groen Druppel-telling oor die jare geleidelik afgeneem het - van 48% in 2013 tot 25% in 2024. Die telling is gegrond op die resultate van 'n jaar lange oudit en weerspieël 'n stelsel se kapasiteit, voldoening aan wetgewing en operasionele prestasie teen die Groen Druppel- regulatoriese standaarde wat uit nasionale wetgewing en riglyne voortspruit. Stelsels wat minder as 31% behaal, word as disfunksioneel beskou.
Die verslag het verder bevind dat meer as R19,5 miljoen se elektriese, siviele en meganiese herstelwerk aan al 10 die munisipaliteit se rioolwatersuiweringswerke benodig word, terwyl slegs R8,8 miljoen daarvoor begroot is.
Die Riversdal-afvalwatersuiweringsaanleg is een van nege stelsels wat as hoërisiko geklassifiseer word. Foto: Chelsea Pieterse
Die departement van water en sanitasie sê in die verslag dat die agteruitgang op verskeie terreine sigbaar is en aan 'n aantal sleutelfaktore toegeskryf kan word. Verskeie van Hessequa se stelsels het nie aan mikrobiologiese, chemiese en fisiese standaarde voldoen nie.
Die verslag het ook swak omgewings-bestuur, geen verifieerbare watergebruik-magtigings, hidrouliese oorbelasting, netwerkdisfunksie en 'n onbevestigde uitvloeistatus geïdentifiseer.
Die verslag lui verder dat die departement "ernstig bekommerd bly oor die algehele afname in afvalwaterdienslewering by nege uit 10 stelsels binne Hessequa se Waterdienste-owerheid, asook die voortgesette afwesigheid van betroubare tegniese inligting, operasionele verifiëring en funksionele risikogebaseerde bestuursinstrumente".
Die Groen Druppel-verslag van 2025 evalueer afvalwaterbehandelingstelsels regoor die land, met afsonderlike verslae wat vir elke provinsie gepubliseer word. Die verslag het bevind dat Hessequa se Groen Druppel-telling oor die jare geleidelik . Foto: Chelsea Pieterse
Die departement het Hessequa se Waterdienste-instelling (WSI) opdrag gegee om teen 30 Junie 'n volledige regstellende aksieplan in te dien wat die vereiste aktiwiteite, verantwoordelike persone, tydraamwerke en verwagte verbeterings uiteensit.
Die reguleerder het egter ook daarop gewys dat die WSI, ten spyte van die geïdentifiseerde prestasie-uitdagings, verskeie positiewe eienskappe getoon het.
"Interne samewerking tussen tegniese, nakomings- en batebestuursfunksies was duidelik sigbaar tydens die assessering."
Die verslag voeg by dat sekere stelsels by groter aanlegte ook 'n redelike goeie fisiese instandhouding getoon het.
Lees die munisipaliteit se volledige verklaring hieronder:
Hessequa Munisipaliteit neem kennis van die onlangse mediaberigte rakende die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se Green Drop-assessering en verwelkom die geleentheid om verdere konteks te verskaf oor die Munisipaliteit se afvalwaterbestuur, asook die prestasie van sy afvalwaterbehandelingswerke.
Die Green Drop-program is ’n omvattende assesseringsinstrument wat veel meer behels as die meting van afvalwater-uitvloeiselkwaliteit alleen. Die assessering evalueer ook faktore soos bestuurstelsels, risikobestuur, instandhoudingspraktyke, operasionele dokumentasie, batebestuur, personeelkapasiteit, finansiële bestuur en regulatoriese nakoming.
Die Munisipaliteit erken dat die Green Drop-assessering verskeie areas geïdentifiseer het waar verdere verbeterings nodig is. Hierdie areas sluit onder meer instandhoudingsrekords, operasionele dokumentasie, risikobestuursprosesse, die integrasie van batebestuur en ondersteunende ouditbewyse in. Die bevindinge word ernstig opgeneem, en verskeie verbeteringsinisiatiewe is reeds in werking gestel om die geïdentifiseerde tekortkominge aan te spreek.
Dit is egter belangrik om te onderskei tussen die bevindinge van die Green Drop-ouditproses en die werklike uitvloeiselnakoming van afvalwaterbehandelingswerke.
Volgens die Departement van Water en Sanitasie se IRIS Institusionele Uitvloeiselnakomingstelsel het Hessequa Munisipaliteit se afvalwaterbehandelingswerke vir die tydperk Junie 2024 tot Julie 2026 gemiddeld die volgende nakomingsvlakke behaal:
- 81,8% mikrobiologiese nakoming;
- 69,6% chemiese nakoming; en
- 66,8% fisiese nakoming.
Verskeie van die Munisipaliteit se behandelingswerke het besonder goeie resultate gelewer. Aanlegte in Garcia, Gouritsmond, Jongensfontein, Riversdal en Stilbaai het sterk prestasie in verskeie nakomingskategorieë getoon. Hierdie resultate bevestig die Munisipaliteit se voortdurende verbintenis tot die beskerming van die omgewing en die handhawing van aanvaarbare uitvloeiselstandaarde.
Die Munisipaliteit wil ook daarop wys dat daar reeds op 28 Mei 2026 ’n konstruktiewe gesprek met die Departement van Water en Sanitasie en die Wes-Kaapse kantoor van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (SALGA) plaasgevind het. Die doel van die vergadering was om uitdagings rakende afvalwaterbestuur en die Green Drop-vereistes te bespreek, asook om leiding en ondersteuning vir die pad vorentoe te verkry.
Tydens die vergadering het Hessequa Munisipaliteit versoek dat verdere tegniese ondersteuning en begeleiding beskikbaar gestel word om die geïdentifiseerde uitdagings aan te spreek en toekomstige Green Drop-prestasie verder te verbeter.
Die Munisipaliteit het ook sy kommer uitgespreek oor sekere bevindinge en gevolgtrekkings in die Green Drop-verslag. Daar is aangevoer dat bepaalde inligting wat tydens die assesseringsproses voorsien is, moontlik nie volledig in konteks geïnterpreteer is nie. Die Munisipaliteit het beklemtoon dat oop kommunikasie, groter samewerking en deurlopende betrokkenheid tussen alle rolspelers noodsaaklik is om te verseker dat assesserings die werklike operasionele omstandighede en die vordering wat deur munisipaliteite gemaak word, akkuraat weerspieël.
Hessequa Munisipaliteit is van mening dat die Green Drop-program nie bloot as ’n regulatoriese nakomingsinstrument beskou moet word nie, maar ook as ’n waardevolle verbeteringsinisiatief wat deur konstruktiewe betrokkenheid, kennis deling en tegniese ondersteuning bydra tot die versterking van munisipale afvalwaterbestuur.
Die Munisipaliteit bly verbind tot die implementering van die aanbevelings wat uit die Green Drop-assessering voortvloei. Prioriteitsaksies sluit onder andere die versterking van instandhoudingsbestuurstelsels, verbeterde rekordhouding, die uitbreiding van afvalwater risikobestuursprosesse, die hersiening van infrastruktuurbeplanning en die verbetering van oudit gereedheid in. Bogenoemde hou enorme finansiële implikasies vir die munisipaliteit in wat onderhewig is aan die toegelate begroting.
Hessequa Munisipaliteit bly daartoe verbind om die omgewing te beskerm, openbare gesondheid te bevorder en voortdurend die gehalte van afvalwater behandeling en dienslewering regoor die munisipale gebied te verbeter.
Die Munisipaliteit sal voortgaan om nou saam met die Departement van Water en Sanitasie, SALGA en ander relevante belanghebbendes te werk om volhoubare verbetering te verseker en te voldoen aan nasionale standaarde en regulatoriese vereistes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’