HESSEQUA NUUS - Te midde van die verwoestende brand wat tans in Mosselbaai woed, het die Hessequa-brandweer ook hand bygesit om die brand te bestry.
Die gemeenskap word nou versoek om saam te staan en ondersteuning te bied aan die brandbestryders wat onder uiters moeilike omstandighede werk.
Volgens die oproep aan inwoners word ’n viertontrok Donderdag (vandag) uitgestuur om noodsaaklike skenkings bymekaar te maak en aan die brandbestrydingspan te besorg.
Inwoners word aangemoedig om by te dra, al is dit net ’n bottel water. Elke bydrae kan ’n verskil maak.
Daar word ook gewerk aan die stigting van ’n noodfonds vir geldelike donasies, waarvan die besonderhede nog bevestig moet word.
Die items wat tans die grootste behoefte aanspreek, sluit in drinkwater en koeldrank (verkieslik 500 ml-bottels, maar enige grootte is welkom), energie-aanvullings soos Energade, sjokolade, piesangs en Bioplus, asook persoonlike versorgingsitems.
Sonbrandroom, lipbalsem, oogdruppels en pynstillers soos Panado word ook dringend benodig om die brandbestryders te ondersteun.
Afsetpunte vir skenkings is by die Spar in Stilbaai, asook by ChrystalClear Water by die OK, met vertrek om 14:00; die Spar in Riversdal, waar die voertuig om 13:00 vertrek; en by die Engen in Albertinia, met vertrek om 14:30.
Gemeenskapslede word bedank vir hul ondersteuning en word versoek om die dapper mans en vroue wat die brand bestry, in hul gedagtes en gebede te hou.
Vir meer besonderhede kontak Betsie van Noordwyk by 072 015 9671.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’