HESSEQUA NUUS - Die gewilde Kwêla se jaarlikse Dorp van die Jaar-kompetisie se nominasiefase het Sondag 28 Februarie om 19:00 geopen en sluit Vrydag 13 Maart om 12:00.
Alle dorpe met ’n permanente bevolking van minder as 500 000 inwoners kom in aanmerking, behalwe die provinsiale wenners van die afgelope twee jaar en die nasionale wenners van die afgelope ses jaar.
Die kompetisie bied groot blootstelling vir toerisme.
Die nasionale wendorp ontvang R1 miljoen van Lottoland om die dorp te verbeter, asook ’n 45-sekonde advertensie op kykNET ter waarde van R1 miljoen.
Die wendorp bied ook die amptelike titelviering aan.
In 2024 het Hessequa-toerisme die 7 Natural Marvels of Hessequa bekendgestel - ikoniese belewenisse in die streek.
Dit sluit in die jaarlikse walvismigrasie en die Breederivier by Witsand, die Gouritzrivier by Gouritsmond, ’n kampioenfluisterboom in Albertinia, die Slapende Skoonheid-bergpiek, die Grootvadersbosch-natuurreservaat naby Heidelberg, en die historiese visvalle by Stilbaai.
Benewens hierdie natuurlike wonders is Hessequa ook bekend vir sy ryk voëllewe, uiteenlopende plantegroei, landboutoerisme, ’n groeiende kunsroete en ’n gewilde kuslyn wat aktiwiteite soos branderplankry, diepseevisvang, staproetes, hengel en walviskyk moontlik maak.
Volgens Hessequa-toerisme lê die ware bekoring van die streek egter in sy mense - van die tannie wat Saterdae warm roosterkoek verkoop, die vriendelike barista, die oom by die hardewarewinkel wat jou elke oggend groet tot die boer wat passievol oor die reën gesels.
Volgens Hessequa-toerisme lê die ware bekoring van die streek egter in sy mense - van die tannie wat Saterdae warm roosterkoek verkoop, die vriendelike barista, die oom by die hardewarewinkel wat jou elke oggend groet tot die boer wat passievol oor die reën gesels.
Nomineer jou dorp
Inwoners word aangemoedig om hul gunsteling Hessequa-dorp te nomineer deur die dorp se naam per SMS na 33157 te stuur.
- Soveel nominasies as wat jy wil, kan gestuur word.
- Slegs een dorpnaam per SMS word toegelaat.
- SMS’e kos R1,50 elk.
- Die nominasiefase sluit Vrydag 13 Maart om 12:00.
Meer inligting oor toerisme in die streek is beskikbaar op Hessequa-toerisme se webwerf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’